Terwyl Johannesburg se inwoners reeds swaar gebuk gaan onder swak dienslewering, slaggate, stukkende verkeersligte, water- en kragonderbrekings, gaan hulle vanaf 1 Julie 2026 nog meer betaal vir dieselfde swak diens.
Die voorgestelde tariefverhogings van 12,5% vir water, 11% vir sanitasie en riolering en 9,01% vir elektrisiteit, lê ver bo die huidige inflasiekoers van sowat 4%. Dit volg op Rand Water se verhoging van 11% en Eskom se verhoging van 9,01%.
Die VF Plus het tydens die metro se departement van omgewing, infrastruktuur en dienslewering se komiteevergadering, sterk beswaar aangeteken teen die voorgestelde 11%-verhoging in die sanitasie- en rioleringstarief.
Die VF Plus sal nie ’n begroting met sulke buitensporige verhogings goedkeur nie. Daar bestaan geen regverdiging om tariewe hoër as inflasie te verhoog nie.
Betalende inwoners van Johannesburg het die melkkoei geword wat die koste moet dra van massiewe waterlekkasies en kragverliese asook diefstal weens onwettige aansluitings.
Hierdie situasie is onaanvaarbaar en kan nie langer geduld word nie. Ongelukkig ontbreek die politieke wil by die ANC-geleide koalisieregering in die metro om die krisisse daadwerklik aan te pak.
Die voorgestelde tariefverhogings is nou beskikbaar op die Johannesburg-metro se webtuiste (www.joburg.org.za) en openbare kommentaar kan aan ratescomment@joburg.org.za gestuur word.
Dit sal ook bespreek word tydens die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-vergaderings wat van 7 tot 14 Mei 2026 plaasvind. Die VF Plus moedig alle inwoners aan om by hierdie virtuele en fisieke vergaderings in te skakel en hul misnoeë duidelik te laat hoor.
Die tyd om werklike oplossings te vind, raak min. Met die plaaslike regeringsverkiesing om die draai, is die VF Plus gereed om die huidige benarde situasie in die metro om te keer.
Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners om te registreer om te stem en die VF Plus hul stem in die metro te maak.


