Die Ekurhuleni-metro is in ’n administratiewe krisis gedompel ná die inhegtenisname van die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, op 20 April 2026. Mnr. Lerutla staan tereg op ernstige aanklagte van beweerde bedrog, korrupsie en die verydeling van die regsproses.
In reaksie hierop het die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, eensydig gepoog om mnr. Lerutla te skors en dr. Tsholofelo Koopedi (voorheen hoof van strategie en korporatiewe beplanning) as waarnemende stadsbestuurder aan te wys.
Ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, berus die uitsluitlike bevoegdheid om ’n waarnemende stadsbestuurder aan te stel by die volle munisipale raad. Hierdie mag kan nie deur ’n stelsel van delegasies of burgemeestersbesluite omseil word nie.
Hoewel die VF Plus die vervanging van Lerutla as ’n noodsaaklike stap in die regte rigting beskou, moet die korrekte wetlike prosedures gevolg word.
Die burgemeester se huidige aanwysing van dr. Koopedi is dus regtens kwesbaar sonder ’n formele raadsbesluit.
Die aanstelling van ’n waarnemende bestuurder is krities om die metro se funksionering te herstel en ’n vars administratiewe benadering te vestig, maar enige afwyking van die voorgeskrewe wetlike proses kan die geldigheid van toekomstige besluite en kontrakte in gedrang bring.
Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie aangeleentheid sonder versuim na die raad verwys word vir ’n behoorlike en regmatige besluit.
Die VF Plus was ook deurentyd gekant teen Lerutla se aanstelling as stadsbestuurder. Dit was gegrond op sy vorige rol as groepshoof finansiële beampte van die metro (GHFB) en die kommer wat vanuit dié pos ontstaan het oor sy geskiktheid as bestuurder.
Die huidige regsproses bevestig dat sleutelposisies binne die Ekurhuleni-administrasie nie altyd gevul word met persone wat bo verdenking van onreëlmatighede staan nie.
Die VF Plus sal die verloop van die saak noukeurig dophou.
Die party bly verbind daartoe om toe te sien dat aanspreeklikheid vir die plundering van openbare fondse seëvier en dat die metro weer op ’n pad van integriteit geplaas word.


