Die heroopstel van grondeise in die regering se restitusie-program was ‘n fout en is onwerkbaar sê, dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Dr. Groenewald het met die begrotingsdebat van die department van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê met die vorige eise-proses het 93% van die eisers geld verkies bo grond wat wys hulle stel nie werklik in grond belang nie.
“Dit gaan hier bloot om die verspreiding van die belastingbetaler se geld, en die regering dink dit is hoe rykdom geskep word. Om van een te vat en vir ‘n ander te gee, skep nie rykdom nie.
“Die departement se begroting is R9,3 miljard per jaar. Hiervan word R2,6 miljard begroot vir grondrestitusie.
“Die regering beraam dat daar 397 000 nuwe eise ingedien gaan word noudat die proses weer oopgestel is. Dit gaan die belastingbetaler sowat R179 miljard kos.
“Ek wil weet hoe beplan die ANC-regering om ‘n sukses van die proses te maak as net R2,6 miljard per jaar begroot word vir ‘n proses wat R179 miljard gaan kos. Dit beteken dit sal sowat 70 jaar neem om al die eise af te handel. Dit is ‘n leeftyd.
“Die heroopstel van die restitusie-eise was ‘n groot fout. Dit skep onsekerheid. Is dit nie dalk net ‘n geval dat die konings nou weer die geleentheid gegee word om te kan eis nie?” het dr. Groenewald gevra.
Verskeie bewerings van die “steel” van grond is gemaak en dr. Groenewald het gesê hierdie stellings moet nou einde kry. “As daar gesê word wittes het grond gesteel, kan daar gesê word swartes het grond van die Khoi en San gesteel. Niemand het van iemand grond gesteel nie en hierdie tipe van bewerings bevorder nie goeie verhoudinge in Suid-Afrika nie en moet nou einde kry,” het Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403