‘n Jarelange tekort aan ‘n behoorlike begroting vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) reduseer dit nou byna tot ‘n grenswag wat net goed genoeg is om patrollies te doen,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder vir verdediging en militêre veterane.
Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsdebat van die department gesê daar word jaar na jaar in die parlement saamgestem dat die begroting nie genoeg is nie, maar tog word niks daaraan gedoen nie.
“Die een goeie ding wat gekom het uit die verdedigingsoorsig was om te bepaal dat ons 2,4% van die BBP nodig het om ons werk te doen. Dis die werklikheid. Die ANC-regering het nie die politieke wil om geld beskikbaar te stel vir die nasionale weermag nie.
“Na soveel jaar is ons nog net waar ons was. Ons is besig om die weermag af te gradeer na iets soos ‘n grenswag wat net patrollies kan doen. Dis waarmee ons besig is. Dit is duidelik die ANC-regering het nie die politieke wil om die begroting aan te pas nie.
“Oor dissipline kan ek net sê as drie van die weermag se top generaals, die hoof van die weermag, die hoof van die lugmag en die sekretaris van verdediging hulle eenvoudig net afvee aan ‘n hofbevel en dit minag, hoe kan u verwag dat die mense op grondvlak dissipline moet hê?
“Deel van die taak van die weermag is om ons soewereiniteit te beskerm, ons grondwet. Ons het ‘n regstaat waar reg en orde geld, maar die generaals ignoreer hierdie reg en orde. Dit is skandalig.
“Indien hulle sê hulle was nie bewus van die hofbevel nie, wil ek weet wat gaan aan in die department. Dit is ‘n swak verskoning.
“Wat het geword van die lugmag kolonel met die pienk pantoffels? Hier is ‘n voormalige lid voor my wat aangekla en skuldig bevind is aan wangedrag in die nasionale weermag. Sy is sydelings uitgerangeer en vandag wil sy hierheen kom en ons vertel wat aangaan in die weermag.
“Daar is nie dissipline nie, want daar is nie behoorlike verantwoording en straf vir wangedrag nie. As u dissipline wil hê, moet die senior offisiere die voorbeeld stel,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403