“Die regering moet eerder op kwaliteit onderrig fokus by Verdere Opleiding en Onderwys instansies (FET), as om miljoene rande aan in diensopleidingsprojekte te spandeer nadat studente gegradueer het”, sê Jean Kriek, VF Plus-jeugleier in Gauteng.
Dit volg nadat die Gautengse premier, Nomvula Mokonyane erken het dat FET-instansies ‘n swak reputasie het en dat die regering poog om deur middel van die indiensopleidingsprojekte, die instansies se profiel te verhoog.
Ongeveer drie-duisend FET-graduandi is reeds betrokke by die projek. Die opleiding duur tussen agt en twaalf maande en deelnemers verdien R15 000,00 ‘n maand.
“Die belastingbetaler het reeds R45 miljoen aan die indiensopleidingsprojek bestee. Die VF Plus-jeug in Gauteng wil graag weet waarom die geld nie liewer gebruik word om te verseker dat kwaliteit onderrig by die FET’s gelewer word nie?”
Die VF Plus-jeug in Gauteng het ook bedenkinge oor die New School of Government wat in Desember open. “Ons sal graag wil sien dat studente by die instansie deur alle groepe in Suid-Afrika verteenwoordig word. Verder hoop ons dat die opleiding op standaard sal wees en dat dit, anders as by FET-instansies, nie ‘n vermorsing van die belastingbetaler se geld sal wees nie.”
Jean Kriek
VF Plus Jeugleier: Gauteng
076 015 2218