Die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Petterson, behoort dadelik te bedank weens die ernstige bevindinge teen haar in die verslag van die Openbare Beskermer (OB) wat vandag bekend gemaak is, sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor landbou, bosbou en visserye.
In die verslag is onder meer bevind dat Joemat-Petterson haar aan wanbestuur, onbehoorlike gedrag, die mors van belastinggeld en inmenging met die ondersoek van die OB skuldig gemaak het.
Volgens dr. Groenewald het die VF Plus herhaaldelik in die verlede gewys op die onbehoorlike optrede van Joemat-Petterson, maar daar is nooit teen haar opgetree nie.
“Ons weet lank reeds dat sy onbevoeg is vir haar pos. Sy het reeds groot skade aan landbou, bosbou en visserye aangerig aangesien sy haar eie belange deurentyd voor die behoorlike uitvoering van haar pligte gestel het.
“Die feit dat daar in haar huidige termyn reeds sewe direkteurs-generaal in haar kantoor aangestel is, is ‘n bewys dat daar ‘n ernstige probleem in haar department is, en ons dring in belang van die land daarop aan dat sy onmiddellik bedank,” sê dr. Groenewald.
Wat betref die toeken van ‘n tender aan Sekunjalo Marine Consortium en die daaropvolgende verwaarlosing aan vaartuie wat Suid-Afrika se kuslyn oopgestel het vir stroping, sê dr. Groenewald die VF Plus het dit jare gelede reeds uitgewys en daarteen gewaarsku.
In 2012 is daar op ‘n parlementêre vraag van dr. Groenewald geantwoord dat nie een van die department se patrolliebote of navorsingskepe operasioneel is nie.
“Ons het toe reeds op die minister se onbevoegdheid gewys en gewaarsku dat die stroping van marinebronne ongehinderd kon plaasvind en dat daar ‘n vermorsing van belastinggeld is. Daar is nie ag geslaan op die waarskuwings nie en sy is toegelaat om ongehinderd voort te gaan.
“Die bevinding van die OB vandag is egter verdoemend en sy kan nie langer in haar pos aanbly nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403