(Parlementêre debat: Begroting-wysigingswetsontwerp)
Die ANC-regering moet kennis neem van belastingbetalers se weersin om aan te hou betaal vir dienste wat nie bestaan nie en om toe te sien hoe hul swaarverdiende belastinggeld verdeel word onder korrupte en onbevoegde owerhede net om vermors en gesteel te word.
Midde-in die grootste ekonomiese krisis in Suid-Afrika se geskiedenis, sit hy met sy swakste regering nog waar wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie aan die orde van die dag is. Die gewysigde begroting bied geen lig in hierdie duister tonnel nie, maar skep eerder verdere maatskaplike afhanklikheid van die staat.
Die ANC-regering is besig om al hoe verder verwyderd te raak van die ekonomiese werklikheid in Suid-Afrika. Terwyl daar ‘n groot verpligting op belastingbetalers rus om vir regeringsprojekte te betaal, bevraagteken die betalers die sinvolheid hiervan al hoe meer.
Belastings word nogtans betaal en aggressief ingevorder, insluitende munisipale heffings en belastings, net om verdeel te word onder korrupte owerhede. Die belastingbetaler se weerstand hierteen is besig om toe te neem.
Waarom moet mense vir vullisverwydering betaal wanneer dit nie verwyder word nie? Waarom vir dienste betaal wat nie bestaan nie en terwyl daar klokslag ‘n verhoging aan belasting en dienstegelde is?
Die regering sal moet kennis neem daarvan dat die publiek nie onbepaald sal voortgaan om vir die ANC se korrupsie en wanbestuur te betaal nie.
Selfs in die grootste krisistyd denkbaar met die Covid-19-pandemie, gaan die stroping van staatsfondse ongehinderd voort ten koste van die bestryding van die siekte, soos die diefstal van geld by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).
By die Oliver Tambo-distriksmunisipaliteit is R4 miljoen betaal vir ‘n deur-tot-deur-bewusmakingsveldtogte van vier dae terwyl die munisipaliteit nie dienste lewer nie en hospitale nie in staat is om Covid-19-pasiënte te behandel nie.
Waarom dan belasting betaal wanneer siekes nie gehelp word nie? Waarom betaal wanneer dienste nie gelewer word nie en mense op plase nie beskerm kan word nie? Die regering het reeds misluk en die begroting is ‘n klinkklare bewys daarvan.
Navrae: 082 674 6670