fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus waarsku administrateurs van Tshwane-metro oor beoogde nuwe aanstellings en neem saak na Gauteng-provinsie

 

Administrateurs van die Tshwane-metroraad is tans besig om nie-kritiese poste te adverteer in ‘n afdeling wat nie amptelik bestaan nie terwyl hulle in elk geval nie by magte is om die betrokke aanstellings te doen nie.

Daar word tans tien poste geadverteer vir die afdeling van “Kantoor van die Administrateur”. Die VF Plus waarsku hiermee dat die administrateurs nie by magte is om mense in hierdie poste aan te stel nie.

Hierdie aanstellings is nie kritiek nie en gaan onnodige koste meebring wat in die huidige ekonomiese klimaat meer druk op die metro se finansies sal plaas. Geskikte interne kandidate kan die poste eerder op 'n waarnemende grondslag vul. Dit sal meer kostedoeltreffend wees.

Die VF Plus benadruk opnuut die feit dat die administrasiebevel volgens Artikel 139 (c) van die Grondwet voorsiening maak vir die administrateurs om op die korttermyn stabiliteit na ‘n raad te bring, en dit slegs vir 90 dae, en nie om die administrasie oor te neem nie.

Die 90 dae van die administrateurs het reeds verval en maak die beoogde aanstellings soveel meer teenstrydig met die Grondwet.

Die VF Plus gaan die saak onder die aandag van die Gauteng-provinsie bring aangesien die provinsie die administrasiebevel daargestel het, en moontlik verantwoordelik gehou sal word vir enige ongeldige besluite wat hieruit mag voortspruit.

Daar sal in die besonder melding gemaak word van die beoogde aanstellings, asook die begroting wat onwettig goedgekeur is.

Die VF Plus sal op grond van die Gauteng-provinsie se reaksie besluit of dit nodig sal wees om ander vorme van optrede te oorweeg.

Navrae: 072 815 4053

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.