Die ANC se jongste voorstel om Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni moontlik in een reuse-megametropool saam te smelt, is ’n bewys dat die party steeds die verkeerde probleem probeer oplos.
Gauteng se inwoners het nie groter munisipaliteite nodig nie, maar wel kleiner, meer doeltreffende en meer aanspreeklike plaaslike regerings.
As ’n inwoner vandag sukkel om ’n lekkende waterpyp, rioolstorting, slaggat of vullisprobleem opgelos te kry, is die oplossing nie om die afstand tussen daardie inwoner en die besluitnemer nog groter te maak nie. ’n Mega-munisipaliteit met miljoene inwoners sal plaaslike regering net verder van die gemeenskappe verwyder wat dit moet dien.
Die VF Plus glo dat die teenoorgestelde benadering gevolg moet word en dat regering nader aan die grondvlak gebring moet word.
Metropolitaanse rade moet eerder gedesentraliseer word deur sterk, funksionele subrade met werklike besluitnemings- en uitvoerende bevoegdhede.
Waar metro’s te groot en onhanteerbaar geword het, moet selfs die moontlikheid van ontbondeling en die skepping van kleiner, meer verantwoordbare munisipaliteite ernstig ondersoek word.
Strukture alleen gaan Gauteng nie red nie. Die werklike oplossing lê in die radikale herstel van munisipale funksionaliteit, die herstel van vervalle water-, riool-, pad- en kraginfrastruktuur asook vennootskappe met die privaatsektor waar dit doeltreffendheid kan verbeter.
Munisipaliteite moet op hul kernverantwoordelikhede fokus, korrupsie en politieke inmenging uitskakel en veilige, goed bestuurde gemeenskappe skep waarin ondernemings kan belê, floreer en werk skep.
Gauteng het nie ’n groter regering nodig nie, maar wel ’n beter regering.
Die VF Plus beywer hom daarvoor dat besluitneming nader aan inwoners gebring word deur kleiner, verantwoordbare munisipaliteite waar infrastruktuur herstel word en die privaatsektor ruimte het om die ekonomie en werkskepping aan te dryf.
ʼn Mislukte stelsel moenie groter gemaak word nie. Dit moet kleiner, slimmer en meer funksioneel gemaak word.


