Die VF Plus het verhinder dat die Mkhondo-plaaslike munisipaliteit (eMkhondo (Piet Retief), eMvelo (Amsterdam)) ’n voorstel goedkeur om 2 833 bate-inskrywings ter waarde van R64,282 miljoen sonder voldoende oorsig af te skryf.
Die voorstel het behels dat bates met ’n boekwaarde van R6,121 miljoen en ’n bykomende waardevermindering van R58,161 miljoen in ’n enkele besluit afgeskryf word.
Dokumentasie het egter gewys dat uiteenlopende kategorieë sonder onderskeid saamgevoeg is, insluitend vermiste bates, beskadigde items, versekerde voertuie, duplikaatinskrywings en selfs ’n bate wat nog daagliks gebruik word.
Die waardeverminderingsbedrag is ook nie per bate bereken of met die finansiële jaarstate gestaaf nie.
Die raad het die VF Plus se voorstel aanvaar om die afskrywing te keer.
Vermiste of gesteelde bates moet nou ondersoek word, versekeringseise nagegaan word en duplikaatinskrywings reggestel word.
Bates wat steeds gebruik word, moet op die register bly, terwyl die waardevermindering van R58,161 miljoen volledig en deursigtig per bate bereken moet word.
Hierdie besluit is ’n belangrike stap vir finansiële deursigtigheid en verantwoordelike batebestuur in Mkhondo.


