Die Ray Nkonyeni-plaaslike munisipaliteit (Hibberdene, Margate, Port Edward, Port Shepstone, Southbroom) se 2026/27-begroting faal om die belange van inwoners voorop te stel en bied geen werklike oplossing vir die munisipaliteit se groeiende probleme nie.
Die begroting is eenvoudig nie volhoubaar nie. Dit voorsien slegs ’n skamele 2,3% se inkomstegroei, terwyl uitgawes skerp styg. Sowat 95% van alle inkomste uit eiendomsbelasting word aan salarisse bestee. Dit laat bykans niks oor nie vir dienslewering en infrastruktuur.
Slegs R124 238 821 word vir herstelwerk en instandhouding begroot wat ’n skrale 6% van die waarde van die munisipaliteit se eiendom, aanleg en toerusting is.
Die totale kapitaalbegroting van R145 174 784 is ook laer as in vorige jare. Waar vorige begrotings op meer as R150 miljoen se surplusfondse gesteun het, moet hierdie begroting met ʼn surplus van slegs R57 miljoen klaarkom.
Dit is onverantwoordelik en laat die munisipaliteit kwesbaar vir enige onverwagte uitdaging.
Inwoners betaal al hoe meer, maar sien al hoe minder in ruil daarvoor. Paaie bly in ’n haglike toestand, openbare ruimtes word verwaarloos en basiese dienste is onbetroubaar.
Die munisipaliteit lyk eerder daarop ingestel om ’n groot administratiewe masjien in stand te hou as om tasbare verbeterings aan gemeenskappe te lewer.
Die VF Plus glo dat ’n begroting ’n verbintenis aan inwoners moet wees en nie net ’n boekhoukundige oefening nie. Hierdie begroting faal daarin om:
• Munisipale bates in stand te hou
• Belastingbetalers se geld verantwoordelik te bestee
• Ekonomiese groei en werksgeleenthede te bevorder
• Prioriteit te gee aan dienslewering in stede van administratiewe uitgawes
Die party kan nie ’n begroting steun wat inwoners verder belas sonder dat hulle verbeterings in hul daaglikse lewe sien nie. Dit is onregverdig teenoor hardwerkende belastingbetalers wat reeds onder groot finansiële druk verkeer.
Die Inwoners van Ray Nkonyeni verdien beter as ʼn ANC-regering wat siende blind en horende doof is vir inwoners se behoeftes en pleidooie.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem wat toegewyd hul belange beskerm en goeie, verantwoordelike bestuur eerste stel.


