Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dipaleseng beplan en begroot vir mislukking

Die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Grootvlei, Greylingstad) se 2026/27-begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) voldoen nie aan die basiese vereistes wat inwoners van volhoubare dienslewering verwag nie.

Die munisipaliteit gaan gebuk onder gereelde kragonderbrekings, riool wat steeds in omliggende riviere gestort word en drinkwater is onveilig.

Hierdie verval het reeds tot ʼn grootskaalse uittog van inwoners en die sluiting van ondernemings gelei.

Dipaleseng se finansiële krisis is duidelik:
• Totale skuld het oor vier jaar verdubbel en oorskry nou R1,1 miljard.
• Eskom-skuld beloop sowat R180 miljoen.
• Krediteure het die R600 miljoen-merk oorskry, en het verdubbel oor vier jaar.
• Diensverskaffers word eenvoudig nie betaal nie, ten spyte van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) wat vereis dat betalings binne 30 dae gedoen moet word.

Die Dipaleseng-begroting wys duidelik dat daar geen realistiese plan vir herstel bestaan nie.

’n Bedrag van R439,4 miljoen word aan bedryfsuitgawes bestee terwyl slegs R16,7 miljoen vir kapitaalprojekte begroot is, wat beteken dat infrastruktuur nie ’n prioriteit is nie.

In stede daarvan word tariefverhogings weer eens op wetsgehoorsame inwoners afgedwing met 3,4% vir onderskeidelik eiendomsbelasting, riool, vullisverwydering en water asook 11,1% vir elektrisiteit wat onderhewig is aan Nersa-goedkeuring.

Hierdie benadering plaas ’n groter las op diegene wat hul rekeninge getrou betaal terwyl nie-betalers steeds gesubsidieer word en dienslewering verder agteruitgaan.

Die begroting is dus nie net onbefonds nie maar ook onregverdig omdat dit geen werklike verbetering in infrastruktuur of basiese dienste bied nie.

Die raad het hierdie onbefondsde begroting sonder enige herstelplan aanvaar.

Dit is ’n direkte oortreding van die MFMA en ’n bewys van ’n bestuur wat nie die gemeenskap se belange dien nie.

Die VF Plus het reeds verskeie voorstelle ingedien om dienslewering en finansiële bestuur te verbeter, maar dit is telkens geïgnoreer.

Die party was gevolglik die enigste party wat teen die begroting en GOP gestem het.

Inwoners het ’n munisipaliteit nodig wat skuldbeheer prioritiseer, infrastruktuur herstel en volhoubare dienslewering verseker.

Op 4 November 2026 het kiesers die geleentheid om vir die VF Plus te stem wat sal veg vir die belange van inwoners, volhoubare dienslewering en ’n werklike toekoms vir Dipaleseng.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.