Inwoners van die Olyfenhoutsdrift-landbounedersetting digby Upington betaal dorpsbelasting, maar kry geen dienste nie. Selfs die enigste pad wat hulle met die dorp verbind, is al vir weke onbegaanbaar.
Die VF Plus gaan die saak nou na die provinsiale regering verwys nadat petisies en vergaderings tot dusver geen uitwerking gehad het nie.
Die omgewing, wat geen munisipale dienste ontvang nie, se eiendomsbelasting is met die vorige begroting van landbou- na residensiële tariewe verander. Nogtans is daar geen straatligte en geen rioolnetwerk nie. Die uitpomp van riool is vir inwoners se eie rekening.
Boonop het ‘n vloed die grondpad wat Olyfenhoutsdrift met Upington verbind, aan die begin van Mei vanjaar onbegaanbaar gelaat. Inwoners moes self inspring en het met die hulp van ondernemings in die omgewing die water uit die pad gepomp. Daar was geen hulp vanaf die Dawid Kruiper-munisipaliteit nie.
Die VF Plus was verskeie kere die afgelope drie maande met die munisipaliteit se siviele afdeling in aanraking, veral rakende die toestand van die pad, wat voor die vloed reeds swak was. Dié grondpad is jare gelede laas opgevul en behoorlik herstel.
Die VF Plus het desperate inwoners gehelp met ‘n petisie aan die speaker, me. Melanie Dodds. Daarin is dringende ingryping met die toegangspad geëis. Sy het ontvangs erken, dit na die betrokke afdelings verwys en ‘n vergadering met amptenare oor die hoër belastings en verskeie ander diensleweringsprobleme het gevolg. Twee maande later het daar egter nog niks van gekom nie – geen terugvoer en geen optrede nie.
Dit blyk dat die ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit Olyfenhoutsdrift en die res van Upington as ‘n oop beursie beskou wat al swaarder belas kan word, sonder om wanbestuur te bestry.
Die werklikheid is dat die las op inwoners onuithoudbaar word en dat verskeie inwoners eenvoudig nie kan byhou nie.
Inwoners van Dawid Kruiper het op 4 November die geleentheid om vir die VF Plus te stem wat alle inwoners se behoeftes voorop stel.


