(Debat in Gauteng-wetgewer oor bek-en-klouseer)
Die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) in Gauteng en die onbeheerde en ongeregistreerde vee in die provinsie, hou ʼn ernstige risiko in vir die provinsie se landboubedryf.
Alhoewel die departement van landbou die uitrol van entstowwe en ander beheermaatreëls beklemtoon, bly die grootste uitdaging die onvermoë om die beweging en oorsprong van alle vee effektief te monitor en te verifieer.
Ongeregistreerde diere wat deur informele kanale verhandel of vervoer word, skep ‘n ernstige leemte in die biosekuriteitstelsel. Sonder behoorlike identifikasie en naspeurbaarheid, word die opsporing van besmette kuddes en die beperking van uitbrekings bykans onmoontlik.
Geen siektebeheerprogram kan suksesvol wees indien owerhede nie beheer het oor die beweging van vee binne die provinsie nie.
Die VF Plus-geleide portefeuljekomitee vir landbou, landelike-ontwikkeling en omgewingsake sal die Gautengse departement van landbou, wetstoepassingsagentskappe en die landbougemeenskap tot verantwoording roep om dringend saam te werk aan die instelling van ‘n omvattende vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel, versterkte inspeksies en strenger toepassing van bestaande wetgewing.
Voedselsekerheid, werksgeleenthede en die volhoubaarheid van Gauteng se landbousektor hang daarvan af.


