Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Rasse-konflik is slegs ‘n rookskerm vir vandalisme in Coligny

Die bewering dat die plundering en die brand van winkels en woonhuise in Coligny die gevolg is van ‘n rassevoorval waar ‘n boer die dood van ‘n twaalfjarige swart seun veroorsaak het, is bloot ‘n rookskerm om winkels in Coligny te plunder, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het Coligny vandag besoek om eerstehands vas te stel wat die oorsaak van die gewelddadigheid is, en hoe die situasie tans daar uitsien.

Hy het onder meer gesprek gevoer met die polisie-generaal wat in operasionele beheer van die omgewing staan en is die versekering gegee dat die situasie onder beheer is en dat polisie-versterkings op pad is om die geweldpleging die hoof te bied.

Dr. Groenewald sê dit was veral opvallend dat feitlik al die drankwinkels op die dorp, insluitende die hotel se kroeg, geplunder is. Twee privaatwonings wat aan die kant van die dorp, naby die informele nedersetting geleë is, is ook afgebrand deur betogers.

Hy sê die situasie is nou onder beheer gebring en die polisie het onderneem om ander private wonings op die dorp te beveilig.

“Ek het gisteraand ook met die nasionale kommissaris van polisie gepraat oor verdere versterkings omdat die polisie aanvanklik nie genoeg lede op die brandpunte gehad het nie en omdat hulle aandag gefokus was op Lichtenburg, sowat 30km van Coligny.

“Die gemeenskap self is ook goed georganiseer en by geleentheid moes gemeenskapslede die polisie bystaan omdat daar slegs een Nyala-voertuig met sowat ses polisielede teenwoordig was.

“Ek spreek my dank uit teenoor die gemeenskapslede wat weereens getoon het ons moet in noodsituasies self paraat en gereed wees omdat daar nie te alle tye van die polisie verwag kan word om die publiek en hul eiendom op kort kennisgewing te beveilig nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.