Die Wes-Kaapse hooggeregshof se bevinding dat feitlik alle prosesse van die regering se kernkragooreenkoms met onder meer Rusland onwettig en ongrondwetlik was, wys onteenseglik dat die proses in alle waarskynlikheid met groot ongerymdhede gepaard gegaan het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.
Adv. Alberts sê die VF Plus verwelkom die bevinding, asook die hof se bevel dat die regering die partye se regskoste betaal, al beteken dit dat die belastingbetaler eintlik moet pa staan vir nog ‘n poging van die ANC-regering om die staatskas te plunder.
Volgens adv. Alberts moet die omgewingsgroep Earthlife Africa en die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe Omgewingsinstituut (Safcei) geloof word vir die hofstryd wat hulle die afgelope twee jaar gevoer het.
“Die VF Plus het nog deurentyd gesê daar is nie vuil kragsentrales in Suid-Afrika nodig nie, en ons is daarom verheug oor die uitspraak.
“Daar kan genoeg krag vir die land opgewek word deur ‘n kombinasie van bestaande kragbronne en hernieubare bronne soos son en wind, wat ‘n snel-groeiende bedryf is.
“Dit word deurentyd goedkoper en vinniger om hernieubare krag te genereer, en ons is dit aan die natuur en ons kinders se toekoms verskuldig om dit op hierdie manier te doen.
“Die hele proses is duidelik deur die ANC gedryf bloot om hul eie sakke te vul. Eskom het byvoorbeeld reeds ‘n surplus krag. Waarom dan ‘n kernkragsentrale wat Suid-Afrika in ‘n bodemlose skuldput sal dompel net om ‘n paar mense ryk te maak?” vra adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403


