Die VF Plus het Woensdag sterk beswaar aangeteken teen ’n voorgestelde salarisverhoging van 4% vir raadslede van die Rand West-munisipaliteit (Randfontein en Westonaria).
Rand West kan eenvoudig nie hierdie verhoging bekostig nie. Die geld sou veel beter bestee kon word aan die betaling van die munisipaliteit se groot agterstallige Eskom-rekening, eerder as om raadslede se sakke te vul.
Ten spyte van die VF Plus se pleidooi het die meerderheid van die raad die verhoging nietemin goedgekeur.
Rand West, ’n Graad 5-munisipaliteit, sukkel reeds lank met swak dienslewering. Inwoners word gereeld getref deur waterbeperkings omdat die munisipaliteit agterstallig is met betalings aan Rand Water. Die munisipaliteit se finansiële posisie is broos en basiese dienste ly daaronder.
Dit is onaanvaarbaar dat raadslede in sulke omstandighede hul eie salarisse verhoog, terwyl inwoners steeds swaarkry weens swak bestuur en onbetaalde rekeninge.
Hierdie besluit bring geen voordeel vir die gemeenskap nie en toon duidelik dat eiebelang bo die belange van inwoners gestel word.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen dat openbare geld verantwoordelik bestee word en dat dienslewering, nie raadslede se vergoeding nie, eerste prioriteit moet wees.


