Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

R130 miljoen se belastinggeld in die water oor onvoltooide infrastruktuurprojekte

Die VF Plus het tydens Donderdag se raadsvergadering in die Tshwane-metro die voorgenome afskrywing van R130 miljoen aan kapitaalbates op onvoltooide infrastruktuurprojekte ten sterkste verwerp.

Hierdie stap is niks minder nie as ’n berekende poging om grootskaalse administratiewe mislukking as ’n blote rekeningkundige regstelling voor te stel.

Hierdie massiewe verlies is die direkte gevolg van chroniese swak projekbestuur en ’n totale gebrek aan koördinering tussen departemente.

Die betrokke projekte, wat onder meer kritieke padverbindings, opgraderings aan waterskema-infrastruktuur en broodnodige kragsubstasies insluit, staan nou halfpad voltooi en verlate.

In baie gevalle is daar duisende rande bestee aan ontwerpe en professionele konsultasiedienste wat deur tydsverloop of swak beplanning nou heeltemal onbruikbaar is.

Weens die metro se onbevoegdheid word nuwe kontrakteurs dikwels aangestel wat die oorspronklike ontwerpe verwerp, wat beteken dat die stad en die belastingbetaler in werklikheid twee keer vir dieselfde diens betaal.

Die huidige administrasie se poging om hierdie verkwisting af te maak as ’n blote “papieroefening” om die boeke te laat klop, is onaanvaarbaar en toon ‘n gebrek aan respek vir die inwoners se geld.

Die VF Plus veroordeel hierdie laksheid ten sterkste. In ’n tyd waar Tshwane se inwoners gebuk gaan onder gebrekkige dienslewering, kon hierdie R130 miljoen aangewend gewees het om juis hierdie kritieke infrastruktuur te voltooi en die lewensgehalte van inwoners te verbeter.

In die lig van die metro se knellende finansiële krisis, kan daar nie toegelaat word dat ’n enkele sent verlore gaan weens administratiewe traagheid en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie saak onmiddellik na die Munisipale Openbare Rekeningekomitee (MPAC) verwys word vir ’n indringende ondersoek.

Amptenare en persone wat verantwoordelik is vir hierdie verkwisting, moet persoonlik aanspreeklik gehou word.

Verder moet ’n professionele en deursigtige projekbestuurstelsel ingestel word om te verseker dat toekomstige kapitaalbesteding nie weer in ’n administratiewe swart gat verdwyn nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.