fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa se kabinetskomitee net oëverblindery

President Cyril Ramaphosa se ministeriële taakspan wat verslag moet doen oor bedrog en korrupsie met tenders en kontrakte wat met Covid-19 verband hou, is niks anders nie as oëverblindery nie en ‘n poging om die publiek te paai deur voor te gee die regering is bewus van korrupsie en dat dit ondersoek sal word.

Die VF Plus het die afgelope maande verskeie geskrewe, parlementêre vrae aan al die onderskeie departemente gerig om presies hieroor antwoorde te kry, en die terugvoer van baie ministers was gebrekkig en onbevredigend. In sommige gevalle is geen antwoord ontvang nie. Die enigste afleiding hieruit is dat daar 'n doelbewuste verswyging van inligting is om moontlike ongerymdhede toe te smeer.

Die VF Plus het byvoorbeeld drie keer vrae gerig aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, maar die antwoorde bly vaag en onduidelik. (Vrae en antwoorde aan min. Dlamini-Zuma hierby aangeheg).

Om ook bloot ondersoek te doen na korrupsie, is nie genoeg nie. Daar moet daadwerklik opgetree word teen die skuldiges en hulle moet, waar nodig, gevangenisstraf opgelê word aangesien die geld wat hier te sprake is, bewillig was om mense in ‘n desperate oorlewingstryd te help. Dit is ook eindelik die belastingbetaler wat die rekening sal moet betaal.

Daar is nou boonop, selfs voordat die komitee met die werk begin het, teenstrydighede oor die eintlike taak en doel van die komitee.

Aanvanklik is gesê dat die komitee self die bedrog en korrupsie sal ondersoek, maar ‘n woordvoerder van die kabinet, Phumla Williams, het nou teruggekrabbel deur te sê die taakspan moet net “besonderhede rondom tenders en kontrakte saamstel”, soos die name van ondernemings wat tenders ontvang het.

Volgens haar bly dit steeds die taak van die toepaslike wetstoepassingsagentskappe om die ondersoekwerk te doen.

Dit laat nou juis meer vrae ontstaan oor die doel van die ministeriële komitee bestaande uit ses ministers (Ronald Lamola, Tito Mboweni, Senzo Mchunu, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Jackson Mthembu) aangesien elk hoof is van ‘n departement waar ongerymdhede onder hul toesig vermoedelik plaasgevind het. Dit kom daarop neer dat die ministers hulself moet ondersoek.

President Cyril Ramaphosa kon bloot die ouditeur-generaal (OG) gevra het om die inligting van staatsdepartemente te kry soos wie tenders ontvang het, wie die eienaars van die ondernemings is en of die begunstigdes geregistreer is as belastingbetalers

Die OG is gerat om dit te doen en die groot vraag is waarom hy nie gebruik is om die ondersoek te doen nie en waarom dit aan ministers oorgelaat is om hulself te ondersoek.

Dit laat uiteraard die indruk ontstaan dat die taakspan saamgestel is met die doel om die ware toedrag van sake te verdoesel en die moontlikheid bestaan dat daar ‘n toesmeerdery kan wees in gevalle waar hoë politici betrokke is.

Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.