Die VF Plus in Noordwes het in 'n skrywe aan die premier, Job Mokgoro, versoek dat daar dringend bepaal moet word hoeveel geld deur provinsiale regeringsdepartemente aan munisipaliteite in die provinsie verskuldig is, en dat hierdie uitstaande skuld as ‘n prioriteit vereffen moet word.
Dit is bekend dat munisipaliteite regoor die provinsie tans groot kontantvloeiprobleme ervaar. Dit lei tot gereelde onderbrekings in noodsaaklike dienste soos kraglewering weens die feit dat munisipaliteite nie kan bybly met betalings aan diensverskaffers soos Eskom nie.
Die redes vir munisipaliteite se finansiële probleme is legio, vanaf wanbestuur en korrupsie, tot gebrekkige invordering van dienste en huurgelde. Provinsiale regeringsdepartemente versuim ook gereeld om hul munisipale rekenings tydig te vereffen.
As groot verbruikers dra die provinsiale regering dus direk by tot die kontantvloeikrisis en ineenstorting van dienste by munisipaliteite. In sommige gevalle beloop hierdie agterstallige skuld reeds etlike miljoene rand. Hierdie wanbetaling, tesame met die drastiese afname in inkomste uit die privaatsektor weens die Covid-19-pandemie, hou ‘n wesenlike bedreiging in vir die volhoubaarheid van munisipaliteite in Noordwes.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die provinsiale regering om in hierdie krisistyd die leiding te neem en ‘n voorbeeld te stel aan alle verbruikers van munisipale dienste, deur hul munisipale rekenings tydig en volledig te vereffen.
Sonder hierdie broodnodige inkomste loop munisipaliteite in Noordwes die gevaar om verder in duie te stort en gemeenskappe regoor die provinsie in ellende te dompel.
Navrae: 082 645 0573.