Die belastingbetalersgeld wat aangewend is om die ingang van Esslinstraat in Potchefstroom te teer is besig om letterlik in ‘n rioolgat weg te spoel, het Vincent Clark, VF Plus-raadslid in die Tlokwe-plaaslike munisipaliteit gesê.
“Die ingang na Esslinstraat is enkele maande gelede opgeknap en oorgeteer, maar is weer besig om te verval as gevolg van ‘n reuse slaggat wat ontstaan het en nou merendeels deur rioolwater wat uit die nabygeleë openbare badkamers stroom bedek word.
“Motoriste is nie bewus van die slaggat nie, veral omdat ‘n mens nie ‘n slaggat in ‘n nuutgeteerde pad verwag nie. Dit berokken nie net skade aan motors nie, maar verniel ook die pad verder.”
Volgens Clark is miljoene rande van belastingbetalers se geld bestee om die ingang na Esslinstraat, sowel as ander opgraderings aan onder andere die kragstasie en parkeerterrein daar aan te bring, maar gaan alles nou tot niet as gevolg van ‘n gebrek aan behoorlike bestuur en instandhouding deur die munisipaliteit.
Clark het die gemeenskap gemaan om versigtig te wees wanneer hulle daar ry om skade aan hul motors te verhoed.
Kontakbesonderhede: 082 293 3701 / 079 885 1135