Die VF Plus het vandag ‘n ultimatum aan die MRK gestel om teen komende Vrydag 4 Augustus teen Edward Zuma op te tree en hom na die Gelykheidshof te neem. Indien dit nie gebeur nie, sal die VF Plus die MRK aangee by die Openbare Beskermer (OB) weens die wanbestuur van fondse deur sake selektief te ondersoek en sodoende belastinggeld te misbruik.
Die VF Plus sal ook ‘n klag teen die MRK indien by die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte ingevolge die Parys-Beginsels wat deur Suid-Afrika ondersteun word en wat die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rig.
Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, sê dit is nou duidelik dat die internasionale beginsels verbreek word wat vereis dat alle menseregte beskerm en bevorder moet word.
“Daar is geen twyfel nie dat Edward Zuma se uitsprake haatspraak daarstel en deur hom nie te vervolg nie is die MRK besig om die mense van Suid-Afrika in die steek te laat. Dit kan nie langer geduld word nie.
“Die skokkende rassistiese uitlatings van Edward Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, en die MRK se ewe skokkende besluit om hom grasie te gee om ‘verskoning’ daarvoor te vra, kan geen twyfel meer laat nie dat die MRK self op rasgegronde wyse selektief optree na voorvalle van rassisme.
“Hierdie versuim van die MRK om ewewigtig op te tree is nie net oneties en onaanvaarbaar nie, maar dit dra grootliks by tot ‘n kultuur van onverdraagsaamheid en rasverdelende uitsprake teen wittes in die algemeen aangesien die oortreders duidelik van mening is dat hul uitsprake straffeloos sal bly.
“Edward Zuma het oud-minister Derek Hanekom verlede week in ‘n ope brief ‘n ‘walglike wit hond’ genoem wat ‘opgelei is om swart mense te verskeur’.
“In stede daarvan om onmiddellik stappe te neem is hy verlede week 48 uur kans gegun om jammer te sê. Vergelyk dit met die snelle optrede teen wittes soos Penny Sparrow en Sunette Bridges. Teen vandag (Dinsdag 1 Augustus) twee-uur, nadat die 48-uur spertyd verstryk het, was daar geen verskoning nie en is daar nog net stilte van die MRK oor die voorval.
“Dit blyk dat die MRK nie die wil het om hoëprofiel-persone te vervolg nie. Een van die frustrerende gevalle was die klag wat die VF Plus teen Brian Molefe ingedien het toe hy na bewering as destydse uitvoerende hoof van Transnet die Transnet-pensioenarisse belaster het en hulle gedreig het indien hulle optogte sou hou. Die saak was bloot op tegniese punte afgewys.
“Die VF Plus voer ‘n jarelange stryd met die MRK om dié liggaam te oorreed om sonder voorbehoud op te tree in gevalle van erge rassistiese uitsprake, haatspraak en opsweping tot geweld wat duidelik deur die wet verbied word.
“Verskeie klagte is oor die jare ingedien teen onder andere pres. Jacob Zuma, Julius Malema en van sy ondersteuners wat gruwelike uitlatings op sosiale media gemaak het teenoor wittes. Ook daarvan het absoluut niks gekom nie. Die VF Plus het selfs gevind dit is moeilik om antwoorde te kry oor die vordering, indien enige, met hierdie klagtes.
“Teen die agtergrond van hierdie onwilligheid om op te tree, het die VF Plus reeds in 2015 ingevolge die Paia-wet inligting van die MRK gevra oor sy ondersoeke en optrede in ‘n poging om rasse-bevoordeling uit te wys.
“Die MRK se antwoord was dat hy nie inligting oor die rasseprofiele van klaers en/of oortreders byhou nie. Dit VF Plus vind dit onverstaanbaar aangesien dit die MRK juis van kritiek-belangrike data kan voorsien oor die voorkoms van rassisme in Suid-Afrika.
“Die VF Plus het met die MRK oor die persepsie van onpartydigheid in gesprek getree, en die MRK het in skrywes onderneem om wel ewewigtig op te tree. Dit raak nou egter duidelik dat dit nie gedoen word nie en bloot lippetaal is.
“Dit laat die VF Plus met geen ander keuse nie as om die MRK nou self verantwoordbaar te hou vir die verbreking van sy eie grondwetlike en internasionaal-regtelike mandate,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403