Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

R45 miljard nodig om Vrystaatse paaie te herstel

Die Vrystaatse departement van paaie het in ʼn voorlegging aan die infrastruktuur-portefeuljekomitee erken dat daar onderskeidelik R30 miljard en R15 miljard nodig is om teer- en grondpaaie in die provinsie te herstel.

Dit is gelykstaande aan die totale begroting van die Vrystaatse regering vir die nuwe finansiële jaar.

Die VF Plus het in April 2023 onthul dat die provinsie in daardie stadium R28 miljard sou moes opdok om teerpaaie in die provinsie ten volle te herstel.

Die grootste deel van die provinsiale begroting word al jare lank aan maatskaplike departemente soos gesondheid en onderwys toegeken terwyl padinfrastruktuur aan die agterspeen suig.

Die provinsie het wel agtien paaie aan die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) oorhandig vir herstelwerk.

Die departement dui ook in sy verslag aan dat prosesse tans gevolg word om nasionale rampbestuurfondse vir vloedgeteisterde paaie in die provinsie te verkry.

Die VF Plus het in April vanjaar die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) versoek om grondpaaie in die provinsie as ʼn ramp te verklaar om die proses te versnel. Dit blyk egter dat die politieke wil ontbreek.

Die toestand van Vrystaatse paaie sal nooit verbeter solank die ANC in beheer is met sy gefaalde beleide van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) nie.

Die talle gestaakte en gefaalde padprojekte in die Vrystaat is ʼn duidelike aanduiding dat kontrakteurs voortaan op meriete aangestel moet word ongeag velkleur.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.