Die VF Plus het die konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar vir die Polokwane-plaaslike munisipaliteit verwerp oor die feit dat instandhouding nie as ʼn prioriteit beskou word nie.
Soos die konsepbegroting tans daar uitsien, gaan die inwoners van Polokwane/Pietersburg weer die finansiële impak moet trotseer terwyl die munisipaliteit nie in staat is om basiese dienste te lewer nie.
Sekere inwoners se uitstaande skuld wat al vir meer as drie jaar agterstallig is, beloop ʼn yslike R2,1 miljard. Hierdie fondse is juis noodsaaklik vir ʼn instandhoudingsbegroting.
Vertragings in die opdatering van ou waterpypleidings en -infrastruktuur dra by tot enorme waterverliese, verhoogde onderhoudskoste en gereelde diensonderbreking.
Dit is ook belangrik om ‘n strukturele plan te hê om hierdie waterpype en -kleppe te vind.
In Faunapark het inwoners vir weke gebuk gegaan onder watertekorte. Die VF Plus het saam met die munisipaliteit se span probeer om die waterkrisis op te los net om te vind dat die span geen idee het waar die pyplyn is nie. Ure is onsuksesvol vermors om dit op te spoor.
Uitgebreide installasie van watermeters is nodig en dit moet versnel word vir die groot aantal oorbrugde watermeters wat tans verantwoordelik is vir die gebrek aan voldoende inkomste.
Elektrisiteit bly ‘n belangrike bron van munisipale inkomste. Inwoners moet met pikdonker strate en ‘n onveilige omgewing tevrede wees, en tog word daar verwag dat inwoners die tariefverhoging van tot 11.32% moet aanvaar. Dit alles ten spyte van die feit dat daar nie ‘n straatlig-onderhoudsplan of begroting daarvoor bestaan nie.
Inwoners van Polokwane het geen ander opsie as om 6% meer vir vullisverwydering te betaal nie terwyl hulle in ʼn stad woon met strate, sypaadjies en parke besaai met vullis.
Onwettige vullisstortings word nie behoorlik aangespreek nie en die munisipale verordeninge bestaan slegs op papier.
Die voorgestelde tariefverhogings gaan ʼn ekstra finansiële las op huishoudings en ondernemings plaas, maar nie die uitdagings met dienslewering en infrastruktuuronderhoud oplos nie.
Indien instandhouding geprioritiseer en daar op kwaliteit dienslewering gefokus word, sal dit ʼn sterk fondament lê vir ekonomiese groei in Polokwane.
Dit is tans nie die geval nie.