Die riglyne waarvolgens die Basiese Onderwyswysigingswet (Bela) geïmplementeer moet word, is deur die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, gepubliseer. Dit trek die angel vir eers gedeeltelik uit die wet.
Die riglyne beperk die mag van die provinsiale departementshoof om by skole se taal- en toelatingsbeleid in te meng, maar ruim steeds nie alle kommer oor die wet uit die weg nie.
Rakende taal en toelating bevestig die riglyne die reël, wat sedert 1996 geld, dat alle regte in die Handves van Menseregte, of Hoofstuk 1 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, hierin geld.
Diskriminasie op grond van ras, taal, geloof en seksuele oriëntasie, is steeds verbode.
Die ander kant, naamlik die reg tot moedertaalonderrig waar prakties moontlik, sowel as die finale seggenskap van die provinsiale onderwyshoof, is nou duideliker.
‘n Skool se toelatingsbeleid en die departement se reaksie daarop, moet steeds die hele onderwysdistrik se taaldemografie in ag neem. Dit moet ook kyk na ander skole in die distrik se vermoë om aan bepaalde taalbehoeftes te voldoen. Die departementshoof kan dus nie goedsmoeds die hele distrik se demografie op elke skool toepas nie.
Verder is daar uitdruklike riglyne waaraan ‘n departementshoof, wat ‘n skool se beleid wil verander, moet voldoen.
So lank hierdie riglyne geld, sal ‘n departementshoof nie die reg hê om eensklaps en sonder deeglike gesprekvoering en redelike oorweging by ‘n skool in te meng nie.
Terwyl hierdie riglyne nou geld in die formulering van norme en standaarde wat selfs in meer besonderhede ingaan, het dit nie dieselfde gesag as ‘n wet nie. ‘n Volgende minister kan nuwe riglyne publiseer, sonder om ‘n parlementêre proses te volg.
Die VF Plus verwelkom die riglyne wat die ergste gevare van die Bela-wet besweer, maar waarsku ook dat dit die hitte onder die pot waarin die paddas gekook word, net effens kleiner draai. Die pot is steeds op die stoof.
Die VF Plus bly verbind tot selfbeskikking in onderwys.