Die VF Plus moedig pensioenarisse in die Ekurhuleni-metro aan om aansoek te doen vir korting op hul eiendomsbelasting voor die nuwe eiendomswaardasies inskop op 1 Julie 2025.
Die nuwe waardasielys beteken dat alle vorige kortings hernu moet word.
Die metro het die inkomstedrempel waarvolgens pensioenarisse vir korting kwalifiseer verhoog. Dit is dus moontlik dat meer huishoudings nou vir dié korting kan kwalifiseer.
Versuim om te hernu kan lei tot die verlies van voordele en ‘n verhoging in maandelikse eiendomsbelasting.
Die nuwe kortings lyk soos volg:
| Maandelikse inkomste | Belastingkorting |
| R0.00 – R4,620.00 (2 x SASSA toelae) | 100% |
| R4,620.01 – R9,155.00 | 85% |
| R9,155.01 – R13,739.00 | 70% |
| R13,739.01 – R18,217.00 | 55% |
| R18,217.01 – R22,894.00 | 40% |
Om te kwalifiseer moet die aansoeker:
• Die geregistreerde eienaar van die eiendom wees, of geregistreer wees as ‘n “lewensreg-gebruiker” in die aktekantoor.
• ‘n Geldige identiteitsdokument voorlê.
• Ten minste 60 jaar oud wees ten tye van die aansoek. Indien ‘n egpaar binne gemeenskap van goedere getroud is en die eiendom op beide hul name geregistreer is, sal die ouderdom van die oudste eggenoot geld – of ‘n goedgekeurde gestremdheidstoelaag-ontvanger of medies-afgetrede persoon.
• Nie ‘n reeds behoeftige wat belastingkorting ontvang nie.
• Permanent op die eiendom woon en wat slegs uit een woning bestaan en geen gedeelte daarvan word verhuur nie.
• Die bogenoemde besonderhede bevestig deur middel van ‘n beëdigde verklaring en/of jongste inkomstebelastingassessering.
Indien die aansoek goedgekeur word, geld die volgende kriteria:
Gedeelte 1:
‘n Waardevermindering van R150 000 op die eiendom vir belastingdoeleindes.
Gedeelte 2:
Verdere korting op die maandelikse eiendomsbelasting gegrond op die gemiddelde maandelikse huishoudelike inkomste oor die afgelope twaalf maande.
Die VF Plus is daartoe verbind om die finansiële reg en waardigheid van senior burgers te beskerm en moedig pensioenarisse aan om aansoek te doen.
ʼn Aansoekvorm is beskikbaar by die volgende skakel of by die naaste kliëntediensssentrum van die metro:
👉 https://www.ekurhuleni.gov.za/wp-content/uploads/2025/06/MPRA-GV25-1-Pensioner.pdf


