Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Elke plaasmoord ‘n verlies vir Suid-Afrika se ekonomie

(Parlementsdebat: Assessering van staatsreaksie en beleidsgapings in die aanspreek van landelike veiligheid en voedselsekerheid in Suid-Afrika)

Plaasmoorde is ‘n ernstige probleem in Suid-Afrika en die realiteit daarvan kan nie weggepraat word nie.  Die gedenkmuur by Nampo met die name van meer as 2 800 vermoorde boere is ‘n hartseer getuigskrif hiervan.

Om die agtergrond oor plaasaanvale en -moorde te verstaan, moet die geskiedenis daarvan in ag geneem word.

In die jare negentig reeds het die toenmalige president, Nelson Mandela, die destydse leier van die Vryheidsfront (soos die party toe genoem is), genl. Constand Viljoen, gevra om ‘n strategiese plan op te stel teen plaasmoorde.

Dit is nie gedoen omdat pres. Mandela enige spesiale voorkeur aan boere gegee het nie. Hy het bloot die belangrikheid van die landbougemeenskap in die land se groter ekonomie verstaan.

Die plan is opgestel, maar die regering onder ‘n nuwe president was onwillig om op die aanbevelings te reageer.

In 2003 het die destydse nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, ‘n omvattende verslag uitgereik waarin dit duidelik gestel word dat politieke motiewe wel ‘n rol speel in plaasmoorde.

Landbougemeenskappe het mettertyd ook na hul eie veiligheid begin omsien en planne beraam teen aanvalle. Dit het meegehelp om die aantal moorde stelselmatig te laat afneem nadat daar in die jare negentig gemiddeld meer as 100 moorde per jaar was.

In 2012 het die polisie ‘n plan oor landelike veiligheid die lig laat sien. Op papier het dit goed gelyk, maar die uitvoering daarvan het veel te wense oorgelaat.

In 2017 het ek daarin geslaag om vir ‘n eerste keer ‘n debat van nasionale belang in die parlement se nasionale vergadering (NV) te laat plaasvind.

Daarin het ek die wreedheid wat met plaasaanvalle gepaard gaan, uitgelig. Dit wys onteenseglik dat dit nie net gewone misdaad kan wees nie. In dié debat was groot eenvormigheid oor die feit dat plaasaanvalle prioriteit van die polisie se kant moet geniet.

In 2018 is die landelike veiligheidsplan opgedateer, maar steeds is die uitvoering agterweë gelaat.

Oor die huidige situasie verdien die minister van polisie, Senzo Mchunu, ‘n pluimpie vir sy gebruik van plaaswagte om misdaad in landelike gebiede te bestry.

Hierdie samewerking moet uitgebou en versterk word. Daar moet hande gevat word om misdaad op die platteland te bestry. Die boere en hul werkers speel almal ‘n belangrike rol om dit te verseker.

Elke plaasmoorde is ‘n verlies vir Suid-Afrika en die land se ekonomie, nie net vir die plaaslike gemeenskap nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.