(Parlementsdebat: Beskerming van fluitjieblasers deur die implementering van robuuste wette wat anonimiteit, werksekerheid en regsondersteuning waarborg vir mense wat korrupsie rapporteer)
In ‘n land soos Suid-Afrika waarin korrupsie gedy, is dit van die allergrootste belang om fluitjieblasers op elke manier moontlik te beskerm om hul lewe en toekoms te beskerm.
Mediaberigte oor skandale en korrupsie is alledaags. Die bekendste hiervan sekerlik die staatskaping waarby oud-president Jacob Zuma en die Gupta-broers betrek is.
‘n Mens lees ongelukkig net so gereeld dat diegene wat die fluitjie oor korrupsie blaas, met hul lewe daarvoor betaal of op ‘n ander wyse geviktimiseer is om hulle stil te maak.
Voorbeelde hiervan is Pamela Mabini (vermoor), Athol Williams (landuit gevlug), Babita Deokaran (vermoor), Jimmy Mohlala (vermoor), Martha Ngoye (afgedank by Prasa) en Cynthia Stimpel (afgedank).
‘n Veel ouer voorbeeld is dié van Robert en Cora Smit wat in November 1977 vermoor is omdat hy vermoedelik ongerymdhede op die lappe wou bring. Die saak is weer heropen in November 2012, maar daar is steeds geen vordering nie.
Hierdie voorbeelde toon duidelik ‘n groot gebrek aan wetlike veiligheids-, finansiële en sielkundige ondersteuning vir diegene wat korrupsie in die regering en elders blootlê.
’n Besprekingsdokument van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling oor voorgestelde hervormings vir die beskerming van fluitjieblasers wat al in Junie 2023 gepubliseer is, is steeds nie gefinaliseer nie, al het president Cyril Ramaphosa met sy staatsrede aan die begin van die jaar onderneem om dit te doen.
Daar is wel bestaande wetgewing, soos die Wet op Beskermde Openbaarmakings en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, maar dit is duidelik nie voldoende nie.
Die vraag is ook of meer wetgewing gaan bydra tot die voldoende beskerming van fluitjieblasers? Beskik Suid-Afrika oor die nodige ervaring, kennis, intelligensievermoë en mannekrag om selfs bestaande wetgewing te polisieër? Die antwoord is “nee”.
Die groot leemtes in onder meer misdaadintelligensie is duidelik sigbaar in gewone strafsake wat dikwels tot onsuksesvolle vervolging lei en die gevolg is dat fluitjieblasers eerder verkies om te swyg.
Die moet verander. Mense wat verkies om op te staan teen misdaad en korrupsie is dapper en doen wat reg is. Die VF Plus eer hulle as hedendaagse en dikwels onbesonge helde.


