Die VF Plus in die eMalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) het ‘n dringende beroep gedoen op die munisipale bestuurder, mnr. Humphrey Sizwe Mayisela, om dadelik op te tree teen voortdurende wateronderbrekings.
Die onderbrekings raak veral inwoners in die noordelike gebiede van Witbank.
Gemeenskappe soos Reyno Ridge, Ben Fleur, Del Judor en uitbreiding 16 is pal sonder water – dikwels vir langer as 48 uur – weens probleme met die watervoorsiening vanaf Toring C.
Inwoners kan nie basiese huishoudelike behoeftes soos kook, higiëne of sanitasie uitvoer nie. Selfs wanneer watertoevoer herstel word, is dit onbetroubaar en van swak druk.
Die VF Plus het reeds ‘n skrywe aan mnr. Mayisela gerig waarin die party dringende verduidelikings en ‘n konkrete aksieplan eis. Die party versoek duidelike kommunikasie, realistiese hersteltye en ‘n deeglike plan vir infrastruktuurverbeterings.
Die afwesigheid hiervan skend inwoners se reg op toegang tot water soos verskans in artikel 27 van die Grondwet.
Die huidige situasie hou ernstige gesondheidsrisiko’s in en ondermyn dienslewering. Die gebruik van watertenks as tydelike oplossing is nie volhoubaar nie.
Die party versoek dat die munisipaliteit onmiddellik:
• ‘n Tegniese verduideliking gee oor probleme by Toring C,
• ‘n Openbare aksieplan voorlê,
• Kommunikasie met inwoners verbeter, en
• ‘n Onafhanklike ondersoek in waterbestuurstrategieë van stapel stuur.
Die tyd vir verskonings is verby. Die VF Plus eis aksie en geregtigheid vir inwoners wat daagliks sonder water moet klaarkom.