Die VF Plus het met kommer kennis geneem van die Ekurhuleni-metro se sogenaamde “spesiale aansuiweringsbegroting” vir die 2024/25-finansiële jaar. Dit is vandag tydens ʼn raadsvergadering goedgekeur.
Dié aansuiweringsbegroting is nie ʼn teken van verantwoordelike bestuur nie. Dit is ‘n noodreaksie op nasionale en provinsiale optrede weens swak prestasie, wanbesteding en onbehoorlike finansiële beplanning.
Volgens ʼn verslag van die ouditeur-generaal (OG) vir die jaar geëindig 30 Junie 2024, moes die metro R397 miljoen se onregmatige uitgawes aanmeld weens die wyse waarop behoeftige huishoudings se oormatige verbruik van water en sanitasie hanteer is. Hierdie fout het die metro gedwing om die begroting drasties aan te pas.
Die nasionale tesourie (NT) het na verskeie waarskuwings op 25 Maart vanjaar R154 miljoen se voorwaardelike toelaes van Ekurhuleni teruggetrek. Dit sluit in:
- R63,1 miljoen van die stedelike nedersettingsontwikkeling toelaag
- R55,6 miljoen van die informele opgraderingstoelaag vir informele vennootskap-nedersettings (Informal settlements upgrading partnership grant)
- R36 miljoen van die ondersteuningstoekenning vir program-en projekvoorbereiding
Hierdie terugtrekking van toelae is ʼn direkte gevolg van onderprestasie en versuim om fondse betyds en doeltreffend aan te wend.
Die kapitaalbegroting vir 2024/25 is verminder van R2,898 miljard tot R2,786 miljard. Hierdie verlaging ondermyn noodsaaklike projekte vir dienslewering, veral in kwesbare gemeenskappe wat afhanklik is van behuising, opgradering van informele nedersettings en stedelike ontwikkeling.
Die totale bedryfsinkomste het van R61,5 miljard tot R60,2 miljard gedaal. Die grootste afnames sluit in:
- Sanitasie-inkomste: R800 miljoen minder
- Waterinkomste: R400 miljoen minder
Hierdie afnames wys duidelik na probleme met inkomste-invordering, swak bestuursbeheer en gebrekkige begrotingsaanname.
Die VF Plus beskou hierdie aansuiweringsbegroting nie as ‘n eenvoudige tegniese aanpassing nie, maar as ’n teken van strukturele wanbestuur. Die ANC/EFF-beheerde Ekurhuleni sit met ‘n patroon van mislukkings wat die metro in ‘n permanente staat van voortdurende krisisbeheer hou.
Die VF Plus eis:
- Volledige ondersoek na die oorsprong en verantwoordelikheid van die R397 miljoen se oormatige verbruik en onregmatige besteding.
- Openbare vrystelling van alle projekvorderingverslae wat aan die NT voorgelê is sodat inwoners weet watter projekte vertraag of gekanselleer is.
- Plan van aksie en vaste spertye vir die herstel van die metro se finansiële geloofwaardigheid, insluitend verbeterde invorderingstrategieë.
- Aanspreeklikheid van amptenare wat versuim het om voorwaardelike toelaes doeltreffend aan te wend.
Onder die huidige bestuur word dienslewering vir armes in die wiele gery, voorwaardelike toelaes verloor en finansiële stabiliteit ondermyn.
Die VF Plus sal nie swyg nie. Daar sal voortgegaan word om verantwoordbaarheid, deursigtigheid en behoorlike bestuur in Ekurhuleni te eis.