Die VF Plus het vinnig en ferm opgetree nadat die Ekurhuleni-metro openbare skole se krag begin afsny het weens beweerde uitstaande grondbelasting-rekeninge.
Ekurhuleni het gister sonder seremonie begin met ‘n proses om die 98 openbare skole in die metro se krag te sny.
In reaksie het die VF Plus se raadslede in die Ekurhuleni-metroraad en LPW’s in die Gauteng-wetgewer met flink koördinasie effektief die proses van Ekurhuleni stopgesit en gereël dat die skole wat afgesny is, weer gekoppel word.
Die afsny-proses was gegrond op die skole se uitstaande grondbelasting-rekeninge wat die provinsiale regering se verantwoordelikheid is. Die skole was derhalwe nie aanspreeklik vir die skuld nie, maar is geteiken om die metro se finansiële posisie te verstewig weens sy eie swak bestuur van openbare fondse en gebrek om die grondbelasting van die provinsiale regering te verhaal.
Die Hoërskool Stoffberg in Brakpan blyk die eerste te wees wie se krag gister afgesny is. Die Hoërskool Dr. Johan Jurgens in Springs se toevoer is ook afgesny.
Dié optrede was op die mees ongeleë tyd aangesien die matrieks tans besig is met rekordeksamens. Daarby word spesiale skole vir gestremde kinders, soos die Muriel Brandskool, waar die kinders ook op die perseel in koshuise woon, geraak.
Sommige kinders is op suurstof- en ander mediese hulpmiddels wat nie sonder elektrisiteit kan funksioneer nie.
Die VF Plus-sweep in die metroraad, Rudolf Herbst, het gister onmiddellik ‘n skrywe gerig aan die uitvoerende burgemeester van die Ekurhuleni metro, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, om die optrede te staak. Die VF Plus-raadslid Riaan van Zyl het deurgaans met geteikende skole gekommunikeer en die nodige inligting deurgegee aan die VF Plus-span in Ekurhuleni en die provinsiale wetgewer.
Die VF Plus het by wyse van sy LPW belas met onderwys in die Gautengse wetgewer, adv. Anton Alberts, onmiddellik met die LUR vir onderwys, mnr. Ralph Chiloane, geskakel.
In die gesprek het dit duidelik geword dat die ANC-leierskap in Ekurhuleni nie met die provinsiale ANC-leierskap oor die proses gekonsulteer het nie. Chiloane het onderneem om die proses stop te sit en die skole wat reeds afgesny is, weer aan te sluit.
Die Ekurhuleni-regering is tans in gesprek met die provinsiale regering om die kwessie finaal op te los sonder om leerders te benadeel.
Met die VF Plus se ingryping is die skole se krag binne 24-uur herstel.
Hierdie oorwinning dui op die waarde van ‘n politieke party wie se openbare verteenwoordigers omgee vir die gemeenskappe wat hulle bedien en die wil het om hul in woord en daad by te staan en te beskerm.
Die VF Plus sal onbeskaamd aanhou stry vir die beskerming van skole, leerders en ouers in Gauteng teen magsmisbruike en swak bestuur van die regering op alle vlakke.
Hierdie blatante onreg toon aan dat die ANC/EFF-koalisie met die 2026-plaaslike verkiesing tot ʼn val moet kom.


