Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Publiek ly onder Wes-Kaap se paaie-oornamestryd

Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, se openbare verklarings oor die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se funksie rakende paaie, gee die feite nie korrek weer nie.

Hy swyg ook oor die gevolge wat dit vir inwoners van die Tuinroete inhou.

Die departement het in Maart 2025 aangekondig dat die paaie-funksie van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit na die provinsie oorgedra gaan word. Die ooreenkoms sou aanvanklik einde Maart 2026 verval.

Die departement het twaalf maande gehad om daarvoor voor te berei, personeel te raadpleeg en die oorname ordelik te beplan. Volgens inligting wat voor die distriksmunisipaliteit se raad gedien het, het daar egter geen betekenisvolle vordering plaasgevind nie.

Dié gesloer was ondanks herhaaldelike aanmanings van die distriksmunisipaliteit.

Vergaderings is belê en die departement is telkens versoek om die proses te finaliseer. Eers kort voordat die kontrak verval het, het onderhandelinge begin en is met personeel gekommunikeer.

Sedertdien is die tydlyne telkens gemis en het die departement geweier om sinvol te onderhandel en aksie te neem. Die ooreenkoms moes toe eers met drie maande verleng word, en daarna met ‘n verdere maand.

Selfs die raad se besluit op 3 Julie moes herroep word omdat ‘n nuwe, wettige ooreenkoms opgestel moes word.

Die VF Plus wil benadruk dat die korrekte proses nie behoorlik gevolg is nie. Intussen het onsekerheid onder personeel dienslewering benadeel en het hulle vir amper drie weke glad nie gaan werk nie.

Die publiek verwag tereg dat paaie onderhou en belastingbetalers se geld verantwoordelik bestuur moet word. Hulle behoort nie die slagoffers van swak beplanning en gebrekkige bestuur te wees nie.

Die departement wil ook nie al die paaiepersoneel van die distriksmunisipaliteit oorneem nie. Indien dit nie gebeur nie, kan dit die munisipaliteit met tot R40 miljoen se onbefondsde personeelkoste laat. Dit sal ernstige gevolge inhou vir die distriksmunisipaliteit se finansiële volhoubaarheid en sy vermoë om ander kernfunksies te verrig om sy voortbestaan te verseker.

Die VF Plus se voorstel in April dat die kontrak met twaalf maande verleng word, met die opsie om dit vroeër te beëindig sodra die departement gereed is om die rol oor te neem, het ook geen vrugte afgewerp nie.

Dit sou stabiliteit vir personeel en ononderbroke dienslewering aan die publiek verseker het.

Dié voorstel is verwerp ten gunste van ‘n maand-tot-maand reëling wat die onsekerheid laat voortduur.

Die VF Plus het reeds voorheen formele ondersoeke aangevra oor die hantering van die proses.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, is ook oor die aangeleentheid ingelig, waarna hy saam met die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, ingegryp het om te verseker dat ongeldige besluite herroep en ‘n gekoördineerde benadering gevolg word.

Die VF Plus sal aanhou om die publiek oor die ware stand van sake in te lig. Die party sal fokus op verantwoordbare regering, deursigtige besluitneming en die beskerming van belastingbetalers.

Die inwoners van die Tuinroete verdien meer as leë beloftes – hulle verdien ‘n departement wat betyds beplan, verantwoordelik optree en sy verpligtinge nakom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.