Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus stel praktiese Sol Plaatje-herstelplan voor

Tydens ‘n openbare vergadering in Kimberley het Theo Joubert, LPW en voorsitter van die plaaslike regeringskomitee in die Noord-Kaapse wetgewer, ‘n omvattende herstelplan vir Sol Plaatje voorgestel.

Dié munisipaliteit, wat die provinsiale hoofstad, Kimberley, insluit, beleef oor die afgelope maande ‘n regeringskrisis. Dit volg op dekades se wanbestuur, sedert die ANC in 2000 elke Sol Plaatje-raad oorheers het.

Die omvattende “Sol Plaatje-herstelwitskrif 2026-2031” skop af met ‘n munisipale diagnose, 34 voorkeurprojekte, ‘n aksieplan vir die eerste honderd dae en meetbare teikens vir die vyfjaarperiode.

Die VF Plus bied hierdie teikens aan kiesers as ‘n openbare kontrak vir 2031. Die volgende hoofpunte som dit op:

• Beskerming van munisipale inkomste: Dit gaan oor verbeterde invordering, sowel as die bekamping van verliese. Die doelwit is om verbruikerskuld wat tans op meer as R2,5 miljard staan, te bestry met ‘n invorderingskoers van 95%.
• Rehabiliteer water- en sanitasie-infrastruktuur (by uitstek die Homevale-rioolaanleg) en verminder elektrisiteitsverliese deur die verspreidingsnetwerk te moderniseer. Die doelwit is om water- en elektrisiteitsverliese van die huidige vlakke van onderskeidelik 67% en 26% tot onder 25% en 10% te dwing. Rioolstortings moet met 80% verminder en die “Groen Druppel”-evaluering (die amptelike oudit deur die departement van water en sanitasie oor die toestand en bestuur van munisipale rioolwater- en watersuiweringstelsels) moet tot bo 80% styg.
• Herstel paaie en stormwaterinfrastruktuur deur beplande onderhoud, eerder as krisisbestuur. Die doelwit is om die huidige agterstand met padrehabilitasie van sowat 200 km en met periodieke padinstandhouding van sowat 260 km met 60% te verminder.
• Vul kritieke tegniese poste, professionaliseer die administrasie en dwing prestasiekontrakte af om vakatures van die huidige 28,7% na minder as 10% af te dwing.

Die 34 voorkeurprojekte sal na raming sowat R5,9 miljard verg. Dit verg ‘n gekoördineerde finansieringsplan wat beter aanwending van lopende munisipale hulpbronne, infrastruktuurtoelaes van die sentrale regering, ontwikkelingsfinansiering, vennootskappe en verbeterde uitvoering van die kapitaalbegroting sal behels.

Kiesers kan kies tussen bestuurde verval, soos opeenvolgende ANC-regerings gebied het, of verantwoordbare herstel, soos die VF Plus voorstel.

Vir elke inwoner van Kimberley en omgewing is die boodskap: Dis ons tyd om te herstel, om die sprankel in die Diamantstad terug te sit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Frik Erasmus

ANC-binnegevegte verlam Thabazimbi

Die inwoners van die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit is tans die slagoffers van ANC-faksiegevegte wat ’n ernstige bestuurs- en administratiewe krisis veroorsaak en dienslewering tot op grondvlak

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.