Die inwoners van die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit is tans die slagoffers van ANC-faksiegevegte wat ’n ernstige bestuurs- en administratiewe krisis veroorsaak en dienslewering tot op grondvlak verlam.
Tans maak twee ANC-raadslede aanspraak op die burgemeesterskap en twee op die amp van hoofsweep, terwyl die raad sonder ’n speaker is nadat die Labour Party sy verteenwoordiger teruggeroep het.
Hierdie leierskapsvakuum het daartoe gelei dat twee geskeduleerde raadsvergaderings sedert einde Mei nie kon plaasvind nie.
Die chaos word vererger weens administratiewe onsekerheid. Die munisipale bestuurder, mnr. Gopolang Clement Letsoalo, is geskors, maar ’n hofbevel het sy skorsing tydelik tersyde gestel.
Omdat die saak nog hangend is en geen verhoordatum vasgestel is nie, heers daar totale onsekerheid oor wie die munisipaliteit regmatig bestuur.
Die VF Plus het destyds teen die aanstelling van Letsoalo gestem juis vanweë sy skorsing by die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit in Noord-Wes weens beweerde ongerymdhede tydens sy termyn as munisipale bestuurder.
Hoewel die VF Plus die huidige situasie onder die provinsiale regering se aandag gebring het en die LUR vir samewerkende regering (Coghsta), Basikopo Makamu, die munisipaliteit besoek het, het geen formele ingryping of duidelike riglyne gevolg nie.
Raadsverrigtinge is glo opgeskort op grond van ’n mondelinge opdrag deur die LUR, maar geen skriftelike kennisgewing of ingryping ingevolge artikel 139 van die Grondwet is aan die raad voorgelê nie.
Hierdie verlamming het tasbare gevolge vir inwoners. ’n Padskraper staan byvoorbeeld al vier maande buite werking bloot omdat ’n eenvoudige waaierband nie vervang word nie.
Die VF Plus beklemtoon dat slegs ’n wettige, funksionele en doeltreffende raad hierdie verval kan stuit. Dit sal nie onder die ANC kan gebeur nie.
Inwoners het die geleentheid om op 4 November vir die VF Plus te stem om ʼn einde te bring aan die ANC se vernietiging van die munisipaliteit en om goeie bestuur en betroubare dienslewering te herstel.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die administrasie en provinsiale regering om hierdie krisis dringend op te los.


