Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wettige wapens nie die probleem, wys data van polisie

Parlementêre antwoorde op vrae van die VF Plus oor moorde wat die afgelope vier jaar gepleeg is met wettig gelisensieerde vuurwapens teenoor onwettige wapens, bied ‘n onweerlegbare argument in die debat oor die ontwapening van die burgery.

Statistiek wat verskaf is deur die waarnemende minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, wys duidelik dat Suid-Afrika se misdaadprobleem met vuurwapens by ongelisensieerde vuurwapens in die hande van misdadigers lê aangesien 99% van moorde met onwettige vuurwapens gepleeg is.

In die vier boekjare vanaf 2022/23 tot 2025/26 is 41 297 moorde gepleeg met onwettige, ongelisensieerde vuurwapens – meer as 28 moorde per dag.

Daarteenoor is slegs 393 persone oor dieselfde tydperk gedood met wettig gelisensieerde vuurwapens. Baie van hierdie gevalle was waarskynlik uit selfverdediging, wat beteken die werklike aantal onregmatige moorde met wettige wapens is selfs laer.

Die VF Plus het aan die minister gevra hoeveel persone in elk van die laaste vier jaar vermoor is met ‘n wettige vuurwapen van ‘n gelisensieerde eienaar teenoor ongelisensieerde vuurwapens.

Daar is ook gevra oor moorde wat gepleeg is met ongelisensieerde vuurwapens wat voorheen aan die polisie, weermag of metropolisie behoort het (volledige vrae en antwoorde hierby aangeheg).

Die antwoord lui as volg:

• . 2022/23: 120 moorde gepleeg met wettige vuurwapens teenoor 10 613 met onwettige vuurwapens.
• . 2023/24: 90 teenoor 10 911.
• . 2024/25: 108 teenoor 10 450.
• . 2025/26: 75 teenoor 9 323.

Dit blyk ook dat vuurwapens wat uit polisiebesit verdwyn het, ‘n ernstige probleem is. Oor dieselfde tydperk is onderskeidelik 38, 40, 24 en 40 mense vermoor met vuurwapens wat aan die polisie behoort het.

Die VF Plus se standpunt was nog altyd dat wettig gelisensieerde vuurwapeneienaars nie die probleem is nie, wel misdadigers met onwettige vuurwapens.

Die regering moet ophou met pogings om eerlike burgers te ontwapen en moet eerder fokus op die herwinning en beheer van die honderdduisende onwettige vuurwapens wat in sirkulasie is, ook wat wapens van die polisie self aanbetref.

In ‘n land waar misdadigers duidelik nie ‘n tekort het aan onwettige vuurwapens nie en nie huiwer om dit te gebruik nie, mag wetgsgehoorsame burgers se vermoë om hulself te verdedig, nie verder ingekort word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.