Die privatisering van waterverskaffing aan Hazyview in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) is die enigste oplossing vir die waterkrisis wat dié dorp teister.
Die bystandpomp by die hoofwatersuiweringsaanleg is reeds vir vyftien maande buite werking. Die hoofpomp het intussen ook gebreek.
Die munisipaliteit, wat bewus was van die dreigende waterkrisis, het geen poging aangewend om die bystandpomp betyds te vervang of te herstel nie.
Die VF Plus is dankbaar vir die welwillendheid van die plaaslike landbougemeenskap om sy besproeiingskanaal aan die munisipaliteit beskikbaar te stel om tydelik water aan inwoners te verskaf.
Hazyview, ‘n bekende toerismebestemming, se reputasie ly onherroeplik skade weens die onbevoegde ANC-beheerde munisipale raad.
Die enigste oplossing is om waterverskaffing aan Hazyview te privatiseer en weg te neem uit die hande van die munisipaliteit.
Die VF Plus eis dat waterverskaffing en infrastruktuurinstandhouding aan kundige en bevoegde maatskappye oorgedra word sodat dit gereguleerd en volgens gesonde besigheidsbeginsels bestuur kan word.
Verskonings van gebreekte pompe, stukkende en verouderde infrastruktuur en ‘n gebrek aan finansiële en ander hulpbronne is lank genoeg voorgehou en dit terwyl die munisipaliteit homself dikwels skuldig maak aan die onderbesteding van voorwaardelike infrastruktuurtoekennings.


