Die huidige vlaag beurtkrag het weereens die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit se onbevoegdheid en sy gebrek aan instandhouding van kraginfrastruktuur uitgewys.
Die munisipaliteit se plundering van fondse, wanbestuur en korrupsie is die oorsaak dat inwoners van die dorpe Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt buiten vir beurtkrag ook gestraf word met onbeplande kragonderbrekings.
Geen instandhouding of vervanging van verouderde kraginfrastruktuur is die afgelope jare deur die munisipaliteit geprioritiseer nie.
Die kragsubstasies kan wanneer dit weer aangeskakel word na beurtkrag, nie die kragstuwings hanteer nie en skop dan uit tot die groot frustrasie van inwoners.
Die voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en 2022/23-begroting is ontoereikend en gaan nie die infrastruktuurprobleme van die munisipaliteit oplos nie.
Die bevolking van die munisipaliteit groei jaarliks met 3,3%, maar ekonomiese groei is slegs 1%.
Die munisipaliteit het tot en met Maart slegs 30% van munisipale infrastruktuurtoelaes bestee weens die aanstelling van onbevoegde kontrakteurs wat projekte vir die verskaffing van nuwe infrastruktuur onvoltooid gelaat het.
Die onbestede fondse moet nou teruggegee word aan die nasionale tesourie.
Hierdie is opnuut ‘n bewys dat die ANC se beheptheid met sy gefaalde beleid van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) inwoners se behoeftes en grondwetlike reg op behoorlike dienslewering minag.
Die enigste oplossing vir die munisipaliteit se probleme is die aanstel van bevoegde persone en kontrakteurs, ongeag velkleur, wat die werk kan doen.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die onderhoud en vervanging van kritieke infrastruktuur te prioritiseer om so broodnodige beleggings te lok om ekonomiese groei te stimuleer tot voordeel van al die inwoners.