Die VF Plus het ernstige vrae oor die behuisingsagterstand in Gauteng, veral teen die agtergrond van die departement van menslike nedersettings wat R73 miljoen in die afgelope finansiële jaar nie bestee het nie.
Hierdie bedrag is nou verbeur en moet aan nasionale tesourie terugbetaal word.
Die agterstand om genoeg huise vir behoeftiges te bou, strek oor jare en sal nie gou uitgewis word nie.
Gauteng het tans 'n agterstand van 1,2 miljoen lae-koste huise.
Talle mense wat in 1996 en 1997 geregistreer het om HOP-huise te ontvang, het steeds nie huise nie.
Die Menseregtekommissie (MRK) het in ‘n ondersoek in Gauteng bevind dat behuising nie vinnig genoeg gelewer word nie weens munisipale wanadministrasie, 'n gebrek aan kontrole oor behuisingsprojekte en korrupsie.
Die VF Plus vind dit interessant dat die kwessie van korrupsie altyd sy kop uitsteek in enige regeringsprojek onder die ANC en dat selfs die MRK daarop ag slaan.
Dit is inderdaad die goue draad wat deur alle ANC-bestuurde openbare projekte loop.
Die MRK het ook aangedui dat talle behuisingsprojekte van swak gehalte is met strukturele defekte wat huise onbewoonbaar maak.
Hierdie tendens is natuurlik terugherleibaar na die streng toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat die deur oopmaak vir onbevoegde diensverskaffers met ANC-verbintenisse. Dit loop hand aan hand met korrupsie.
Wanadministrasie en korrupsie vind ook plaas met die lyste van die bevoordeeldes wat huise moet kry.
Die MRK het bevind talle mense op die waglyste se huise is aan ander persone uitgedeel. Familie of vriende van amptenare wat die lyste bestuur word dikwels bevoordeel.
Dit is baie duidelik dat die ANC nie eens projekte wat die meeste van sy kiesers raak na behore kan bestuur nie en dat die belangrikste oogmerk vir ANC-kaders is om hulself en familie en vriende te bevoordeel ten koste van diegene wat al 27 jaar wag vir ‘n huis om in te woon.
Die VF Plus sal die kwessie verder opneem in die Gautengse wetgewer.