fbpx
Vryheidsfront Plus

Burgemeester bied geen werkbare oplossings vir Emalahleni se diensleweringsprobleme en Eskom-skuld nie

Terwyl die inwoners van die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) reeds vir maande geteister word met water- en ander diensleweringsprobleme, kon die nuutverkose burgemeester, me. Conny Nkalitshana, geen konkrete plan op die tafel plaas oor hoe dié probleme opgelos gaan word nie.

Nkalitshane het net vae antwoorde verskaf op vrae van die VF Plus in dié verband ten spyte van beloftes met haar inhuldiging dat sy en haar burgemeesterskomitee dienslewering in Emalahleni sal regruk.

In haar antwoord aan die VF Plus oor hoe die munisipaliteit beplan om sy agterstallige skuld van R5 miljard aan Eskom te vereffen, het sy bloot gesê dit sal oor die volgende 20 jaar afbetaal word.

Die antwoord is onaanvaarbaar aangesien belastingbetalers getrou hul kragrekening aan die munisipaliteit vereffen, maar die geld nie aan Eskom oorbetaal word nie.

Inwoners in sekere gebiede van Emalahleni word al vir maande geteister met watertekorte weens verouderde waterinfrastruktuur, waterlekkasies en vandalisme.

Luidens die ouditeur-generaal (OG) se verslag van 2019/20 is die munisipaliteit se skuldinvorderingskoers van 84,4% te laag en moet daadwerklik opgetree word om agterstallige diensterekeninge in te vorder.

Die kultuur van nie-betaling, foutiewe munisipale rekeninge en onwettige krag- en waterkoppelings dra by tot die laer as verwagte invorderingskoers.

Dit blyk uit die antwoorde van die burgemeester dat inwoners van Emalahleni nie in die nabye toekoms ‘n verbetering in dienslewering te wagte moet wees nie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om instandhouding van kritieke infrastruktuur en die betaling aan grootmaatverskaffers soos Eskom, te prioritiseer.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.