Die VF Plus het die burgemeester van die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein-A, Marikana, Phatsima, Rustenburg, Tlhabane), me. Sheila Mabale-Huma, in ‘n skrywe versoek dat die munisipaliteit dringende stappe neem om ‘n dreigende waterkrisis in die gebied af te weer.
Die skrywe met voorgestelde oplossings is ook gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Victor Makona.
Die VF Plus het konkrete voorstelle gedoen om te voorkom dat waterbeperkings vanaf 13 Maart tot 31 Desember ingestel word.
Die munisipaliteit het die munisipale raad Maandag ingelig dat Randwater sy watervoorsiening aan die munisipaliteit voortaan tot 45 megaliter per dag gaan beperk wat die beperkings noodsaak.
Hierdie beperking verteenwoordig ‘n afname in watervoorsiening van tot 15%.
Die VF Plus het versoek dat die plaaslike Waterdienste Trust dringend die afhandeling van die Bospoort-projek prioritiseer.
Met hierdie projek sal water vanaf die Bospoortdam na reservoirs in Rustenburg herlei word. Die afhandeling van hierdie projek sloer egter reeds sedert Januarie 2018.
Verder is die munisipaliteit versoek om dringend met Randwater en ander betrokke owerhede te skakel met ‘n versoek om die bestaande vlak van watervoorsiening te handhaaf vir die periode wat dit sal neem om die Bospoort-projek te voltooi.
Binne die munisipaliteit moet die instandhouding van waterinfrastruktuur geprioritiseer word om enige vermorsing van water te voorkom.
Die doeltreffende invordering van waterrekeninge in die munisipaliteit moet ook prioriteit geniet.
Dit is ‘n skande dat ‘n belangrike ekonomiese spilpunt in Noordwes bedreig word weens die nalatigheid en swak bestuur van die ANC.