Die vyandigheid van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) teenoor werkers van Randwater, verhinder die herstel van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se verouderde en vervalle rioolinfrastruktuur.
Randwater het R100 miljoen van die nasionale tesourie ontvang om die rioolinfrastruktuur van Emfuleni-munisipaliteit te herstel.
Lede van Samwu weier sedert Februarie dat werkers van Randwater rioolpompstasies en watersuiweringswerke betree om dringende herstelwerk daar te doen.
Werkers wat verantwoordelik is vir die toets van watergehalte word ook toegang geweier.
Samwu-lede is na bewering bevrees dat hulle hul werk gaan verloor indien Randwater die instandhouding van die infrastruktuur oorneem.
Die VF Plus het Vrydag tydens ‘n vergadering met die twee entiteite om die probleme te probeer oplos, Samwu gemaan om sy vyandigheid te staak en sy geskil met Randwater op te los.
Dié vergadering het op ‘n dooie punt uitgeloop.
Emfuleni beskik nie oor die nodige hulpbronne om self die gebreekte rioolpype en -pompe te herstel nie.
Intussen vloei riool deur inwoners se erwe en vanuit stukkende rioolaanlegte na die Vaalrivier.
Die VF Plus het Samwu en Randwater gemaan om hul geskille spoedig by te lê ter wille van die inwoners van Emfuleni.


