Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het nie geld om sy stukkende vullisverwyderingsvragmotors te herstel nie, maar wel R15,1 miljoen vir die salarisse van 19 senior navorsers en ondersteuningspersoneel vir ANC-politici en meer as R800 000 vir oortydbetaling aan werkers van die vullisverwyderingsdepartement.
Die oortydbetaling is vir munisipale werkers wat noodgedwonge naweke moet werk om die agterstand met vullisverwydering te probeer inhaal.
Dit is onnodige uitgawes en die geld kon eerder aangewend geword het vir die herstel van munisipale voertuie en om brandstof aan te koop
Tans is 36 van die 39 voertuie van die vullisverwyderingvloot van Emfuleni in die motorhawe vir herstelwerk. Die probleem bestaan lank reeds en het veroorsaak dat die munisipaliteit die afgelope drie jaar slegs elke tweede week vullis verwyder.
Baie van die stukkende vragmotors het min aandag nodig soos die vervanging van ‘n battery of buiteband.
Die drie oorblywende vragmotors staan ook dikwels sonder brandstof weens die munisipaliteit se kontantvloeiprobleme.
Baie inwoners stort nou onwettig hul vullis in parke of langs paaie wat verdere probleme veroorsaak.
Inwoners dreig ook met ‘n klasaksie teen die munisipaliteit om ‘n gedeelte van die geld wat betaal word vir vullisverwydering, aan hulle terug te betaal aangesien die diens nie gelewer word nie.
Hierdie wys opnuut hoe die onbevoegde ANC ‘n eens voorspoedige munisipaliteit in die afgrond in bestuur met verkeerde prioriteite.
Die Gautengse regering het Emfuleni in 2018 onder gedeeltelike administrasie geplaas, maar geen verbetering in dienslewering of in die munisipaliteit se finansies is te bespeur nie.
Die VF Plus het die administrateur van Emfuleni, Gilberto Martins en sy span, versoek om dadelik die 36 stukkende vragmotors te herstel om die diens te lewer waarvoor belastingbetalers getrou betaal.