fbpx
Vryheidsfront Plus

Almal in Suid-Afrika gaan ekonomies geraak word deur oorlog in Oekraïne

(Parlementêre debat: Impak van Rusland se inval in Oekraïne op Suid-Afrikaanse ekonomie)

Elke persoon in Suid-Afrika gaan geraak word deur die nadelige ekonomiese gevolge van die oorlog in Oekraïne – veral diegene wat afhanklik is van basiese voedingstowwe soos brood en meel.

Statistiek wys dat 30% van die koring wat in Suid-Afrika verbruik word, van Oekraïne afkomstig is.

Projeksies dui daarop dat die prys van koringprodukte daarom binne ’n jaar met 27% sal toeneem. Die prys van wit meel sal volgens projeksies styg met 20% en geel meel met 21%.

Sommige groot bakkerye het reeds gewaarsku dat die prys van hul brood skerp gaan styg. Dit sou wensdenkery wees om te dink dat die gevolge van die oorlog elke persoon in Suid-Afrika nie direk gaan raak nie.

Voeg hierby die prys van brandstof en bemestingstowwe en die impak op veral die landbou-industrie wat ewe negatief gaan wees.

Die ANC moet daarvan kennis neem dat hy die mense van Suid-Afrika in die steek laat vanweë sy struggle-vriendskap met Rusland. ’n Ware vriend sal kritiek ter harte neem indien dit geldig is.

Die ANC veroordeel nie die oorlog in Oekraïne nie en het nie die Verenigde Nasies (VN) se resolusie teen Rusland se aggressie in die oorlog gesteun nie.

Die ANC moet homself daarom afvra of Rusland hom as ’n vriend of as ’n bruikbare idioot sien.

Oor Rusland se aggressie in die oorlog moet daar geen onduidelikheid wees nie. ’n Land wat sy tenks en sy troepe oor ’n ander land se grens stuur, ongeag die redes, is die agressor.

En soos in ander oorloë, is dit ongelukkig die vroue en die kinders wat die grootste slagoffers van hierdie oorlog is.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.