fbpx
Vryheidsfront Plus

Petroleumprodukte: Oorlog in Oos-Europa kan ‘n vervoerrewolusie bespoedig

Die oorlog in Oos-Europa kan 'n vervoerrewolusie bespoedig wat oor die lang termyn 'n positiewe uitkoms vir Suid-Afrika en gemeenskappe binne die land kan inhou.

Die parlement se portefeuljekomitee vir minerale hulpbronne en energie het vandag voorleggings oor die ontvouende energiekrisis as gevolg van die oorlog tussen Rusland en Oekraïene ontvang en verskeie hoeke is belig.

Die nasionale tesourie, die departement self en die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het deelgeneem.

Uit die voorleggings blyk dit dat die huidige hoë ruolieprys nie net die gevolg van die oorlog is nie.

Vinnige ekonomiese herstel het olieprodusente onkant betrap ná die ineenstorting van die oliemark tydens die Covid-19-pandemie. Verder volg die Petroleum-uitvoerlande (Opul) steeds 'n beleid om produksie in te kort om hoë pryse te verseker.

Suid-Afrika is tans meer kwesbaar vir skommelings van dié aard aangesien die sluiting van raffinaderye beteken dat die land tans die grootste deel van sy vloeibare energievoorraad in voltooide vorm aankoop.

Klemverskille bestaan, met die departement van minerale hulpbronne en energie wat daarop aandring dat kopers vir die Sapref-olieraffinadery in Durban gevind moet word om sy voortbestaan te verseker.

Die verskillende rolspelers stem ooreen dat 'n prysverhoging wat tussen R1 en R3 wissel, verwag moet word. Dit sal 'n groot impak op huishoudings hê, wat ook die grootste verbruikers van vloeibare brandstof is.

Hoewel maatreëls soos brandstofkwotas genoem is, word dit tans nie in vooruitsig gestel nie. Verbruikers word wel aangemoedig om, ook ter wille van hul eie finansies, op verskillende maniere brandstof te bespaar.

Uit die WNNR se voorlegging blyk dat Suid-Afrika met 'n kombinasie van alternatiewe energiebronne binne ‘n afsienbare tydperk onafhanklik van buitelandse bronne van vloeibare brandstof kan word.

Die ontwikkeling van elektriese voertuie vir passasiersvervoer en waterstof vir swaar vragte, veral met gebruik van hernubare bronne om die elektrisiteit in die eerste plek op te wek, is al 'n werklikheid.

Sedert die nywerheidsomwenteling in die jare 1920 behoorlik in Suid-Afrika wortel geskiet het, was die keuse tussen besoedelende steenkool en ingevoerde ruolie as energiebron.

Die moontlikheid om selfversorgend te raak en boonop klimaatdoelwitte te bereik, kan die toekoms van Suid-Afrika en al sy gemeenskappe ingrypend verander.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.