Faksionalisme, binnegevegte en politieke magspanning binne die ANC in die Vrystaat is duidelik die rede waarom daar nog geen permanente aanstelling vir die pos van departementshoof vir die departement van polisie, paaie en vervoer gemaak is nie.
Die departement is jare reeds bekend vir politieke en administratiewe onstabiliteit, wanbestuur en korrupsie.
Die LUR vir polisie, paaie en vervoer, mnr. William Bulwane, het Donderdag tydens ‘n portefuljekomiteevergadring in die Vrystaatse wetgewer erken dat die saak sloer tussen sy departement en die Vrystaatse premier, me. Sisi Ntombela.
Bulwane is die tweede LUR vir die departement sedert 2019.
‘n Derde opeenvolgende waarnemende departementshoof, me. Masego Tsabalala, is nou aangestel sedert die afdanking van mnr. Sipho Mtakati in Mei 2021 as permanente departementshoof.
Dit is duidelik die ANC-faksiegevegte gaan oor die beheer van die departement se beursie wat die grootste bron van die provinsie se eie-inkomste is.
Ntombela, wat Mtakati afgedank het, moet ook die nuwe permanente aanstelling doen. Haar gesloer dra by tot verdere onstabiliteit wat die provinsie duur te staan kom.
Nog twee waarnemende bestuursposte by die departement, naamlik die hoof-finansiële beampte en hoofdirekteur vir padinfrastruktuur, is ook nie permanent gevul nie.
Die VF Plus het gevra om die departement se skriftelike versoeke aan die premier te sien sodat Ntombela daarvoor verantwoordbaar gehou word.
Die party sal ook in die Vrystaatse wetgewer eis dat sy verduidelik waarom so lank gesloer word met die permanente aanstellings.
Die ouditeur-generaal (OG) het verlede week in haar verslag oor die Vrystaatse regering gewaarsku dat ‘n gebrek aan politieke en administratiewe leierskap die provinsie se geldsake kniehalter.
Die departement het in die 2020/2021-boekjaar R1 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan.
Tans word oor talle onvoltooide padprojekte in howe beslis terwyl die provinsie se paaie daagliks verder verbrokkel weens ‘n gebrek aan herstelwerk.
Die Vrystaat verdien nie ‘n ANC-regering wat veel eerder party- en faksiebelange bo dienslewering en die belange van die provinsie se inwoners stel nie.