Mpumalanga se departement van maatskaplike ontwikkeling moet verantwoording doen oor die R8,5 miljoen se onbruikbare sanitêre produkte wat nie meer onder behoeftige skoolmeisies versprei kan word nie.
Die produkte voldoen nie aan die nodige standaarde nie.
‘n Mosie van die VF Plus wat tydens ‘n sitting van die provinsie se wetgewer op 2 September aanvaar is, het hierdie vermorsing van geld uitgelig. Die party dring daarop aan dat die meisies op die laatste teen einde September van bruikbare sanitêre produkte voorsien word.
Die departement het in Februarie 2021 die Sanitêre Waardigheid-program van stapel laat loop. Die program sou sanitêre items aan meer as 105 000 behoeftige skoolmeisies in die provinsie voorsien.
Dit is vir hierdie meisies onmoontlik om tydens hul maandstondetydperk skool by te woon, omdat hulle nie die nodige sanitêre produkte kan bekostig nie.
In die 2021/22-finansiële jaar is meer as R20 miljoen vir hierdie program begroot.
Tydens die voorlegging vir die program se afskop in Februarie 2021 is dit duidelik gestel dat produkte wat nie aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) voldoen nie, nie vir die tender oorweeg sal word nie.
Tog is kontrakte aan drie maatskappye, Lethuthandophila, Silvex 622 en Ophinix toegeken sonder dat hul produkte aan die vereiste standaarde voldoen.
In die departement se vierde kwartaallikse verslag word erken dat R8 524 844, 79 se produkte wat van hierdie drie maatskappye aangekoop is, nie aan die vereistes voldoen nie.
Die departement het die produkte vir verdere toetse gestuur en wag op die resultate.
Die VF Plus sal teen die einde van September ‘n vorderingsverslag aanvra en sal die departement en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, me. Lindiwe Ntshalintshali, verantwoordelik hou indien hulle nie met ‘n werkbare oplossing vorendag gekom het nie.Mp