Volgehoue druk van die VF Plus op die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) het die munisipale raad gedwing om hierdie week strafregtelike klagte teen voormalige amptenare by die polisie in te dien.
Hierdie optrede kom 204 dae nadat 'n Artikel 106-ondersoek in terme van die Munisipale Stelselswet talle ongerymdhede in die munisipaliteit uitgewys het en dié amptenare daarby betrek is.
Mpumalanga se voormalige LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, het die Artikel 106-ondersoek aangevra ná beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders en administratiewe foute soos onder meer foutiewe salarisuitbetalings en ‘n algehele gebrek aan bestuurstoesig.
Dit blyk dat die ANC-beheerde munisipaliteit die verslag probeer stuit het en vir maande geen van die aanbevelings van die voormalige LUR vir Cogta uitgevoer het nie.
In die verslag wat in Februarie vanjaar tydens ‘n raadsvergadering aan raadslede verskaf is, maar ná die vergadering weer teruggeneem is, word verskeie amptenare betrek by die onreëlmatige betaling van R53,8 miljoen aan sewe maatskappye.
Die VF Plus het die afgelope ses maande aanhoudende druk op die raad geplaas om op te tree en het selfs die openbare beskermer (OB) genader om dit te ondersoek.
Die VF Plus sal nou seker maak dat die klagte wel opgevolg en ondersoek word. Daar moet ook seker gemaak word dat die interne dissiplinêre stappe en die aanbevelings van die verslag ten volle ingestel word.