Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

PR Mpephu-lughawe hou tans geen voordeel in vir Limpopo of sy inwoners

Die PR Mpephu-lughawe hou geen voordeel vir Limpopo of sy inwoners in nie.

Dit was duidelik met ‘n oorsigbesoek wat die VF Plus gister saam met Limpopo se departemente van vervoer, gemeenskapsveiligheid en openbare werke, aan die lughawe gebring het.

Gateway Airport Authority Limited (GAAL) bestuur dié lughawe wat geleë is in Vuwani, net buite Thohoyandou in die Vhembe-distrik.

Die oorsigbesoek het kommerwekkende tekortkominge aan die lig gebring.

Hoewel die lughawe reeds geruime tyd gesluit is en vir opgradering geoormerk is, land kommersiële vlugte steeds daar sonder toesig, wat onduidelikheid skep oor goedere en passasiers wat op- of afgelaai word.

Die lughawe se nabyheid aan Zimbabwe en Mosambiek, gekombineer met die gebrek aan behoorlike beheermaatreëls, maak dit kwesbaar vir misbruik, insluitend mensehandel en die smokkel van onwettige vuurwapens en dwelms.

Die toestand van die lughawe is verder verontrustend. Die hoofgebou dien as ’n bergplek vir dokumentasie, die brandweerstasie is in ’n staat van verval, die terrein is oorgroei met gras en daar is geen heining om loslopende diere van die aanloopbaan weg te hou nie.

Dit hou ernstige veiligheidsrisiko’s in vir enige vliegtuig wat wil land of opstyg.

Die VF Plus beskou die fondse wat die provinsiale regering in die lughawe inpomp om dit te red, as ’n vermorsing van belastingbetalersgeld.

Tans is die lughawe bloot ’n wit olifant wat geen bydrae lewer tot die distrik se ekonomie of toerisme-geleenthede nie.

Die enigste lewensvatbare oplossing om dit kommersieel en winsgewend te maak, is om privaat beleggers te betrek. ’n Privaat vennootskap kan die nodige kapitaal en kundigheid bring om die lughawe veilig en winsgewend te bedryf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.