Boere op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Vioolsdrif-omgewing se vars produkte kan binnekort in die koelkamers vergaan indien daar nie ‘n oplossing vir onmededingende invoere uit Namibië gevind word nie.
Namibië vereis ‘n laer loon aan plaaswerkers as Suid-Afrika. Boonop stel die staat grond aan groot landboumaatskappye teen gunstige huurvoorwaardes beskikbaar, wat tans grootskaalse uitbreidings aan die Namibiese kant moontlik maak.
Vir Suid-Afrikaanse boere daarenteen, is dit byna onmoontlik om waterregte vir verdere uitbreiding te kry.
Arbeidskoste en beskikbare grond is vir varsprodukprodusente van die grootste kostes. In beide gevalle maak statutêre bepalings dit vir boere suid van die Oranjerivier moeiliker as dié noord daarvan.
Aangesien Suid-Afrika én Namibië aan die Suider-Afrikaanse Doeane-unie behoort, is daar geen markbeperkings nie. Nogtans sluit Botswana en Namibië in piek produksietye hulle markte vir Suid-Afrikaanse produkte. As gevolg daarvan het Suid-Afrikaanse boere in die vroeë somer van 2024 ook met oorskotte gesit.
Terwyl die VF Plus buurlande die reg gun om hul eie landbou te bevorder en te beskerm, kan Suid-Afrika nie toesien dat sy eie boere weens gebrek aan beskerming ten gronde gaan nie.
Die VF Plus dring dus daarop aan dat die departemente van landbou, sowel as handel, nywerheid en mededinging, tot aksie oorgaan.


