fbpx
Vryheidsfront Plus

Polokwane: VF Plus dien klag by MRK in oor lugbesoedeling en watertekort op Elmadal

Die VF Plus het ná ’n gemeenskapsvergadering ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien rakende die watertekort en lugbesoedeling op Elmadal-kleinhoewes buite Polokwane (Pietersburg).

Vir bykans ’n jaar het die onwettige ontwikkeling van ’n steenmakery op ‘n kleinhoewe in dié omgewing en ’n algemene tekort aan voldoende water inwoners rooi onder die kraag.

Tydens die sementbaksteen-vervaardigingsproses word 'n fyn poeier vrygestel wat op die lange duur tot ernstige gesondheidskwessies kan lei.

Die kleinhoewes is net gesoneer vir landbou- en verblyfdoeleindes.

Die klag is ingedien namens bekommerde inwoners van Elmadal wat uitgereik het na die VF Plus nadat die gemeenskap geen samewerking kon kry van die wyksraadslid nie.

Die VF Plus-raadslid by die Polokwane-plaaslike munisipaliteit, Susan Clarke, het die saak onder die munisipale bestuurder, Thuso Nemugumoni, se aandag gebring.

Daar is met verskeie departementshoofde en bestuurders vergader en stappe is geneem.

Die plaaslike balju het 'n staak-en-weerhoudingsbrief gerig aan die eienaars van die onwettige ondernemings en hulle is gewaarsku oor moontlike regstappe.

Dit wil nou voorkom asof daar bloot voortgegaan word met die onwettige optrede.

Die VF Plus is daarom genoop om die saak op ’n ander vlak aan te spreek.

In sy klag by die MRK voer die party aan dat die watertekort en lugbesoedeling inbraak maak op die grondwetlike regte van hierdie inwoners wat getrou hul munisipale dienste betaal.

Ingevolge die Grondwet en die Wet op Waterdienste het almal die reg tot toegang tot basiese watervoorsiening en die reg op basiese sanitasie asook 'n omgewing wat nie skadelik is vir ‘n mens se gesondheid of welstand nie.

Water moet intussen voorsien word, al is dit met watertenkwaens.

Die VF Plus sal die vordering van die saak monitor en optree in die beste belang van inwoners.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.